’n Organisasie in Bonnievale streef daarna om ’n gesonder geestesingesteldheid by skoolgaande kinders en die res van die skoolgemeenskap te skep.

Community Keepers, ’n organisasie sonder winsbejag, werk sedert Julie 2023 in die gemeenskap.

“Ons lewer dienste in die skool en belê in die welstand van leerders,” verduidelik Suzette Willemse, die gebiedsbestuurder.

Community Keepers lewer psigoterapeutiese dienste – nie net aan die leerders van die verskeie skole nie, maar ook aan hul ouers en voogde, asook die personeel by skole.

“Ons wil graag ’n ondersteunende skoolgemeenskap skep. Ons wil ’n kultuur van welstand skep. Ons wil hê mense moet na hul geestesgesondheid begin omsien. Ons wil ’n kultuur skep waar almal voel hulle behoort en waar groei en ontwikkeling aangemoedig word,” sê Willemse.

Community Keepers lewer tans sy dienste aan 11 skole in die Bonnievale-gemeenskap en wil graag hê die gemeenskap – veral diegene verbonde aan skoolgaande kinders in die dorp – moet kennis dra en gebruik maak van die dienste.

“Hier is 11 skole in Bonnievale en ons is by elkeen van hulle beskikbaar. Ons terapeute is beskikbaar om berading aan te bied, sowel as terapeutiese dienste, programme vir leerders en ouers en selfs ook vir onderwysers. Dit is ’n gratis diens wat ons lewer.

“Dit hoef nie noodwendig ’n geval te wees waar ’n leerder na ons toe kom nie, maar ons kan ook programme of hulp aan die hele skool bied.

“Ons wil graag ook ouers en onderwysers aanmoedig om van hierdie diens gebruik te maak, want almal kan baat vind daarby.”

. Kontak Suzette Willemse by 072 781 5535 vir meer inligting oor Community Keepers en die spesifieke dienste wat die organisasie bied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article