“Hoop.” Dit is nie net die naam van Roderick en Chantel Boer se gemeenskapsprojek nie, maar ook die kern van die werk wat hulle in Worcester doen.
Dit was sowat drie jaar gelede dat hulle verby ’n man gery het – verlate, mismoedig en rigtingloos – wat besig was om sy pols te begin sny.
Volgens Roderick was dit ’n dag waarop hulle besoek by ’n rehabilitasiesentrum afgelê het. Daardie prentjie wat hulle voor hulle gesien het, daardie verslaafde wat besig was om sy pols te sny, is waar alles begin het. “Dit was iemand wat moeg was vir die lewe,” vertel Roderick.
Gelukkig het die paartjie die moed gehad om met hom te praat en te luister na dit wat hom pla.
Op daardie dag is die saadjie geplant wat intussen gegroei het tot ’n volwaardige inisiatief om hulp en ondersteuning aan verslaafdes te bied.
Die man het ’n klas van Road To Recovery (RTR) bygewoon, en só vir Chantel en Roderick geïnspireer om hul eie platform te begin waar verslaafdes die geleentheid kry om te genees deur na mekaar te luister en te praat.
Hul ondersteuningsklasse vind elke Donderdag plaas en word steeds groter danksy die feit dat lede ander verslaafdes wat hulp nodig het kan saambring. Sowat 20 mense woon tans die weeklikse ondersteuningsgroepe by.
Dinsdae reik Chantel en Roderick na verslaafdes uit en Woensdae word gebruik om oor God se Woord te gesels.
“Dis maklik om weer in dwelms te verval; dus probeer ons om hul roetine te verander,” vertel Chantel, wat glo om ’n goeie nuwe roetine te kweek kan verslaafdes help om nie weer in verslawing te verval nie.
Tog is daar baie uitdagings. “Ons het ’n uitdaging met vervoer sowel as ’n plek waar ons ons geestelike programme vir hulle kan aanbied. Boonop het ons geen vorm van finansiering nie,” sê Chantel.
Sy en Roderick finansier tans alles self. Uiteindelik is Hoop se uitgangspunt om die verslaafdes op ’n permanente grondslag te help om uiteindelik weer op hul eie in die gemeenskap te kan funksioneer.





