ASHTON. – Die Ashton United-rugbyklub het tydens sy jaarvergadering aan die einde van verlede maand ’n nuwe bestuur vir die 2023-’24-rugbyseisoen gekies.
Christopher John Prins is as United se nuwe voorsitter verkies nadat ds. Franco du Toit vroeër die tuig as voorsitter neergelê het.
Die res van die bestuurspan is: Richard Wagenaar (ondervoorsitter), Elrico Sylvester (sekretaris), Joan Albanie (hulp-sekretaresse), Bjorn Cavernelis (kassier) en Samantha Jaftha (hulp-kassier).
Ashley Gertse (klubbeampte), Vernon Brown (mediabeampte), Roche van Rooyen, Joselina Buis en Herman de Koker is as addisionele lede tot die bestuur verkies.
Voorts het die bestuur besluit om die ervaring en rugbykennis van die legendariese Johan de Koker (63), ’n oud-SWD en SARU-speler, te benut.
De Koker, ’n boorling van Ashton en self ’n voormalige speler van United, is as direkteur van afrigting by die klub aangestel.
In sy speeldae was De Koker ’n briljante senter, wat menige teenstanders hoofbrekens op die rugbyveld besorg het.
Nadat hy sy rugbystewels weggebêre het, het De Koker in ’n baie bekwame afrigter ontwikkel.
Hy het die Worcester Villagers-rugbyspan tussen 2010 en 2016 met groot sukses gebrei.
Dié klub het in hierdie tydperk – met De Koker aan die stuur – die Boland-Premierliga-titel drie keer verower.
De Koker het vroeër in ’n stadium ook Boland se amateurspanne afgerig.
“Ons as bestuur is regtig bevoorreg en bly om De Koker aan boord te hê en sien daarna uit om met hom saam te werk,” het Cavernelis gesê.


