’n Polisieman het hom onlangs na ’n brand gehaas toe hy gedink het mense is dalk in gevaar.
Konst. Theodore Pietersen en sy kollega was op 15 Februarie besig met hul patrollie in Buitekantstraat toe hy ’n groot rookwolk opmerk.
“Dit was omtrent 07:40 toe ek die digte rookwolk agter geboue sien uitkom. Ons het toe vinnig tot daar gery. Toe ons daar stop, was die huis se agterplaas oop en ek het regdeur agtertoe gehardloop om te kyk of die huis brand en of daar mense in die huis is,” verduidelik Pietersen.
Dit was egter ’n stuk uitgedroogde grasperk in die erf se agterplaas wat vlamgevat het.
“Die vlamme het al hoog gestaan. Die vuur was ook al besig om na die huis op die erf en na die bure te versprei. ’n Hout-kragpaal het ook al begin brand.”
Hy het toe aan die deure en vensters begin klop.
“’n Bejaarde vrou het toe stadig en mank na die deur toe aangekom en oopgemaak. Sy het so groot geskrik toe sy die vlamme sien en sê toe sy was nie eens bewus dat dit in haar agterplaas brand nie.”
Die bejaarde is toe vir tyd en wyl uit die huis en van die erf af gehelp.
“Ons het die vuur sommer met emmers water begin blus, en een van die bure het ons met ’n tuinslang gehelp. Ek sidder om te dink wat sou met daai vrou gebeur het as ons nie betyds daar aangekom het nie.”
Pietersen noem ook toe hulle by die huis stop waar die rook uittrek, het hy nie gedink nie, net gereageer.
“Ek het glad nie gedink aan die feit dat ek moontlik na ’n groot en gevaarlike brand hardloop nie. My liggaam het op daardie oomblik net op die brand gereageer.”
Dit is onduidelik hoe die brand ontstaan het, maar geen misdaad word vermoed nie.
Pietersen is al vir sewe jaar ’n lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.





