Worcester se speurderkantoor in Hoogstraat. Foto: Jana ScheepersFoto: Jana Scheepers


Die Worcester-polisie se speurdienskantoor in Hoogstraat is reeds vir etlike jare vervalle, en soos verskeie geboue wat deur die nasionale departement van openbare werke besit en bestuur word, is dié kantoor ook een van baie wat nie in stand gehou word nie.

Volgens kol. Andrè Traut, ’n provinsiale woordvoerder van die Suid-Afrikaanse polisiediens, is dit slegs die polisie se verantwoordelikheid om die gebou se tuine in stand te hou, iets wat volgens hom wel gedoen word.

“Die tuinkwessie wat in jou navraag aangehaal is, is opgelos, en ons [die polisie] is besig om eksterne tuinmaakdienste aan te stel,” volgens hom.

Standard hetverneem die tuine se gras is twee weke gelede gesny nadat ’n klagte daaroor in dié koerant verskyn het.

Voor dit is werknemers en verbygangers maande lank deur die ongesnyde gras in die gesig gestaar.

Opvolgvrae aan die polisie oor hoekom die polisiediens etlike maande gewag het om die tuin te versorg, en wanneer die tuindienste aangestel gaan word, bly onbeantwoord.

Volgens ’n speurder by dié kantoor beloof die departe­ment van openbare werke reeds vir meer as twee jaar om die gebou op te knap.

Dié opknappingswerk sal die verf van die perseel insluit, asook die instandhouding van die dak en geute en afrondingswerk soos om die vloerlyste sowel as die badkamers netjies te maak.

Volgens die speurder gaan die polisie binnekort die gebou se waterpype en geisers ook opknap.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article