“Kom jy na my toe?”
Só groet die honderdjarige Sophia Booysen my terwyl sy my aan die hand na die sitkamer toe lei. Sy sit sommer op ’n koffietafeltjie, maar staan amper onmiddellik op om self vir haar ’n stoel te gaan haal.
Sy het haar verjaarsdag net die dag vantevore gevier.
“Dit was baie lekker. Ek is dankbaar dat die Here my uitgespaar het. Ons was daar by Kleinplasie,” vertel sy in ’n baie sagte stemmetjie.
Sy meen om so ’n groot ouderdom te behaal, sit nie in enigeen se broek nie.
“Dis nie altyd lekker nie. ’n Mens voel nie soos jy altyd gevoel het nie. My liggaam voel nie lekker nie,” vertel sy terwyl sy oor die heup vryf wat sy meer as tien jaar gelede beseer het toe sy geval het.
Sy is op 12 Junie 1924 in Worcester gebore, maar het baie lank ook in De Doorns en Touwsrivier gewoon.
“Sy het lank in De Doorns gebly en later het sy en haar man in Touwsrivier gaan bly tot en met sy sterfte in 2012,” vertel Deswell Adonis, by wie sy tans woon. “Dis toe ek vir haar gaan haal het. Haar bure het haar vir ’n paar dae nie gesien nie, toe laat hulle toe die polisie ondersoek instel. Hulle het haar toe op die grond gekry lê. Sy het van die bed afgeval en haar heup beseer.”
Adonis is een van Sophia se “oorle susters” se kleinseun en hy meen al is sy tannie al ’n honderd, loop die kleingoed steeds onder haar deur.
“Moenie dink om sommer net so aan haar goed te vat nie. Dan gaan jy dit hoor,” vertel hy, terwyl Sophia stilletjies sit en giggel.
Sy het een seun gehad, maar hy is ook al baie lank gelede oorlede. Sy het ook nooit weer daarin belanggestel om weer te trou nie.
“Nee, ek is klaar met manne. Ek loop alleen. Solank as wat ek nog gesond is, loop ek oral waar ek wil wees.”
Sy geniet nog haar lewe voluit en gaan nie sommer gou daarmee ophou nie.
“Sy juig nog elke Sondag in die kerk. Sy staan al 06:00 op om kerk toe te gaan. Die mense by die kerk sê ’n Sondagdiens is nie ’n Sondagdiens sonder haar teenwoordigheid nie.
“Sy was glad nou die dag by die Nekkies-fees ook. Sy stap gereeld na haar susterskinders hier in Worcester; soms stap sy sommer dorp toe ook. Sy laat nie op haar wag nie,” vertel Adonis.





