’n Laerskool in die dorp het groot planne om te ontwikkel en die beste van hul skool te maak.
Die Laerskool Worcester-Oos is nou die enigste laerskool in die dorp wat met koshuisdienste spog.
Volgens Renee van der Riet, skoolhoof, het hulle reeds verlede jaar met die projek begin. Hoewel die koshuis nie op die skool se perseel is nie, sê sy hulle is steeds opgewonde.
“Ons huur ’n seksie van Worcester Gimnasium se Seminarie-koshuis en het tans plek vir sowat tien kinders,” sê Van der Riet.
Sy sê sy is bewus is van die belangrike verhouding tussen kinders en hul ouers, dus word die kinders nie toegelaat om oor naweke in die koshuis te bly nie.
“Ons wag nog net vir ouers om aansoek te doen vir hul kinders,” voeg sy by.
Die skool het sy eie koshuisouers wat reeds daar bly.
Van der Riet noem ook die ekonomiese voordeel wat die koshuis vir die skool bied, aangesien hulle meer leerders van elders gaan lok.
“Hierdie is ook ’n goeie geleentheid om ons hoërskole te bemark, want as ouers dalk ’n kind het wat reeds in een van die hoërskole is, word dit makliker om die jonger kind ook na die dorp te bring.”
Die Oosie-gemeenskap is opgewonde oor al die positiewe geleenthede wat die nuwe koshuis vir die skool bring.





