Huise langs die Smalblaar-rivier is gisteroggend oorstroom. Foto: Enrico Claassen


’n Chaos het oral in die Breedevallei uitgebreek ná swaar reën Dinsdagnag en Woensdagoggend.

Verskeie paaie en gebiede in die vallei het oorstroom en talle paaie was gesluit as gevolg van die opeenhoping van water wat nie vinnig genoeg deur middel van dreineringstelsels weg kon vloei nie.

Verskeie weerwaarskuwings is vroeër vandeesweek deur die Suid-Afrikaanse weerdiens uitgereik, met waarskuwings oor die swaar reëns wat verskeie dele van die Wes-Kaap sou teister.

Verskeie damme en dele van die Breërivier is ook tot oorlopens toe vol en het op plekke oor hul walle gevloei. Dit het daartoe gelei dat hoofroetes en passe vir verkeer gesluit is.

Die Witzenberg-munisipaliteit het vroeg Woensdagoggend ’n kennisgewing op hul Facebook-blad gepos wat mense inlig dat rotse oor paaie gestrooi lê en het motoriste gewaarsku om veilig te wees.

Inwoners in die Spokiesdorp- informele nedersetting in Rawsonville het erg deurgeloop deurdat ’n groot deel van die gebied Woensdagoggend onder water was. Soveel so dat inwoners in die strate betoog het oor hul ontevredenheid hieroor.

Die provinsie se damme se gemiddelde watervlak het teen gister van 59,9% tot 68,7% gestyg. Dit was 57% in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Die Breërivier-opvangsgebied het tot 67,49% teenoor 59,23% verlede jaar gestyg.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens verwag dat die reën teen môre (Vrydag 16 Junie) sal bedaar, maar reënweer keer Saterdag weer terug.

Anton Bredell, die LUR vir plaaslike regering en omgewingsake, het die skerp styging in damme se watervlakke verwelkom en die hoop uitgespreek dat die reën die damme verder gaan opvul.

Hy het gevra munisipaliteite moet nou fokus op die gehalte van die water wat aan inwoners gelewer word.

Agri Wes-Kaap is ook verheug oor die onlangse reën en sê dit is wonderlik om die damme nou só vol te sien nadat dit aan die begin van die winter nog laer as verlede jaar was.

“Die terugvoering van produsente oor die provinsie heen is meestal positief en met ’n gevoel van dankbaarheid, veral vanuit streke wat lank onder droogtes gebuk gegaan het.”

Die vlak van die Theewaterskloofdam, die grootste opgaardam in die provinsie, het die afgelope week van 63,8% tot 76,6% gestyg en was ’n jaar gelede 66,3% vol.

Die vlakke van ander damme wat water aan Kaapstad verskaf, is: . Brandvleidam: 53,78% (36,75% in 2022);

. Kwaggakloofdam: 52,34% (37,34%);

. Stettynskloofdam: 43,41% (45,9%

Standard het by die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) navraag gedoen en hulle het die volgende in ’n mediaverklaring gesê: “BVM vra ondersteuning en geduld gedurende hierdie tydperk. Ons spanne bly daartoe verbind om die vlak van diens binne alle geaffekteerde gebiede te herstel. Gaan asseblief voort om streng veiligheids- en voorsorgmaatreëls te tref tydens ongunstige weersomstandighede om skade aan infrastruktuur en lewensverlies te minimaliseer en te vermy.”

Hulle deel die volgende noodnommers:

. Diensondersteuningsentrum (slegs om diensonderbrekings aan te meld): 0860 12 12 12;

. Noodkontaknommers: 023 342 2430 of 107 (van ’n landlyn) of 112 (van ’n selfoon).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article