Oom Tom op sy gunstelingplek – langs die sportveld.Foto:

Credit: SYSTEM

Een van Worcester se mees gerespekteerde sportbekendes en opvoeders, die 80-jarige Thomas Frederick van Noie, is Maandagoggend om 04:30 ná ’n kort siekte tuis oorlede.

Oom Tom, soos hy by almal bekend was, is in Stellenbosch as een van vier kinders en enigste seun van wyle James en Carmie van Noiegebore. Hulle het na Worcester verhuis, waar sy oorlede pa poste as opvoeder gekry het.

Hy het by NGK Oefenskool en daarna Sohnge skoolgegaan en in 1961 een van die eerste leerders van die Hoërskool Esselenpark geword. Ná matriek het hy hom as opvoeder by die destydse Onderwyskollege Suid-Kaap (OKSK) bekwaam en ook ’n spesialisjaar in liggaamlike opvoeding aan Hewat Kollege voltooi.

Oom Tom het as opvoeder by verskeie laerskole gewerk, waaronder Orchard Primêr, Riverview Primêr, Roodewal asook Oefenskool, voordat hy sy kampie na Esselenpark verskuif het, waar hy die volgende 39 jaar tot sy uitdienstrede skoolgehou het. Hier het hy ’n indruk op letterlik duisende leerders van oor die land heen en selfs buite landsgrense gemaak.

As atletiek-afrigter het hy groot geeste soos Hennie Moses, Nico Vermeulen, die Visagie-broers Chris, Pieter en hul suster Mary-Ann en Kosie Botha tot nasionale roem geneem. Ook op rugbygebied was hy meer as net nog ’n afrigter.

Manne soos Pat Marran, Dewey Swartbooi, Josie Ontong, Chrisite Noble, Tienie Serfontein, Johan Triskey, Charles Januarie, Rodger Grove, Steven Nkoko, Sammy Horne, Kenny Africa, Whalied Heyns, asook die latere Springbok Heinie Adams, is maar enkeles wat onder Oom Tom se afrigting groot hoogtes bereik het.

Hy was ook ten nouste betrokke by fietsry en was later ’n steunpilaar en medestigterslid by die destydse Worcester- amateur atletiek- en fietsryklub. Hy was ook ’n heel bruikbare veelsydige krieketspeler en lank ook lid van die Primroses-krieketklub. Later (ná eenwoording) was hy lid van Worcester United-krieketklub en het die klub later as voorsitter gedien. Hy was ook vir jare afrigter van sy klub Young Hamiltons, en tot en met sy afsterwe was hy voorsitter van die klub.

Hy is destyds deur Boland vereer met erekleure vir sy bydrae tot die bevordering van rugby in die Boland.

Oom Tom was destyds ook nou betrokke by die bevrydingstryd en het ook dikwels sy eie lewe op die spel geplaas in dié tyd.

’n Bewys van sy goedhartigheid en hoe geliefd hy in die gemeenskap was, is die honderde boodskappe op sosiale media wat sy lof besing.

Sy dogters, maar veral sy oogappel, reken hy het nie net vir hulle as kinders gelewe nie, maar sy lewe aan die gemeenskap rondom hom gewy.

Volgens Trudy het hy hulle verder aangespoor om ook sy voorbeeld wat hy nagelaat het, na te volg.

Oom Tom word oorleef deur sy vrou, Marion, met wie hy 44 jaar getroud was. Hy laat ook vier kinders – drie dogters en ’n seun – asook ses kleinkinders en twee susters agter.

Oom Tom word Saterdag vanuit die Maranatha-sentrum in Denisestraat in Johnsonspark begrawe. Die diens begin om 10:00 met besigtiging vanaf 09:30. is ’n Roudiens word vanaand (Donderdag 8 Februarie) o- 19:00 – ook by Maranatha-sentrum – gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article