Die bekende Rawsonviller TC Botha is Dinsdag ná ’n kankerstryd oorlede. Foto:

Credit: SYSTEM

’n Bekende boer van Rawsonville is Dinsdag oorlede.

TC Botha (63) is verlede week Dinsdag (23 Januarie) ná ’n stryd met kanker oorlede. Hy was welbekend in toutrek- en rugbykringe.

Die Rawsonville-rugbyklub het ’n roerende boodskap op sy Facebook-blad gedeel.

“ ’n Liefdevolle nagedagtenis aan oom TC Botha. Dit is met swaar harte dat ons die hartseer nuus deel van die afsterwe van oom TC Botha, ’n ware legende in rugbykringe. As Springbok-toutreklid en spanbestuurder, asook ’n merkwaardige rugbyspeler wat ’n onuitwisbare stempel op die Rawsonville-rugbyklub en Boland afgedruk het, was oom TC se bydraes tot die sport onmeetbaar.

“Vandag treur ons oor die verlies van ’n groot man wat ’n moedige stryd teen kanker gestry het. Oom TC se toewyding, passie en onwrikbare toewyding aan Rawsonville en sy gemeenskap sal vir altyd onthou en gekoester word.

“Ons betuig ons innige meegevoel met sy geliefde vrou, hul seuns Theunis, Adriaan en Michiel en die hele familie. Mag jul vertroosting vind in die herinneringe wat gedeel word en die liefde wat jul omring gedurende hierdie moeilike tyd.

“Oom TC, dankie vir alles wat jy vir Rawsonville en die rugby­gemeenskap gedoen het. Jou nalatenskap sal aanhou om ons almal te inspireer,” lui die boodskap.

Botha was op sy dag ook ’n Springbok-toutrekker. Die South African Tug-of-War Federation se Facebook-blad het ook ’n boodskap oor sy sterfte gedeel.

“Dit is met hartseer dat ons u moet meedeel van die afsterwe van TC Botha, legendariese Springbok-toutrekker en spanbestuurder, vroeër vandag ná ’n lang stryd met kanker. Ons deel ons innige medelye met sy vrou, familie en vriende,” lui die boodskap.

Verskeie organisasies en ondernemings het ook hul medelye op sosiale media gedeel, insluitend die Paarl Boys’ High Old Boys Union se blad, waar Botha eens ’n leerder was.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article