Mense se trollies raak al hoe leër.

Credit: SYSTEM

Vir die meeste Suid-Afrikaners lyk hul geldsake maar droewig, en die stygende kospryse, brandstofprys en huishoudelike skuldlas dra hiertoe by.

Suid-Afrikaners betaal ongeveer 10% meer vir basiese voedselitems teenoor ’n jaar gelede, en diegene wat sukkel om die ligte aan te hou, bestee ongeveer 40% te min aan kos.

Die jongste huishoudelike bekostigbaarheidsindeks, saamgestel deur die organisasie Pietermaritzburg- Ekonomiese Geregtigheid en Waardigheid, is verlede week bekend gemaak. Dit toon die gemiddelde koste van ’n inkopietrollie het met R410,53 (10,2%) gestyg – van R4 039,56 in Maart 2021 tot R4 450,09 in Maart vanjaar.

Die verslag dui aan die prys van 33 van die 44 kosprodukte wat in ’n huishoudelike inkopietrollie gevind kan word, het gestyg, met aansienlike verhogings vir koekmeel, kookolie, eiers, tee, brood, rys, witsuiker en mieliemeel.

Die indeks volg voedselpryse van 44 supermarkte en 30 slaghuise in Johannesburg, Durban, Kaapstad, Pietermaritzburg en Springbok in die Noord-Kaap.

Sowat 87% van Suid-Afrikaners sê in ’n nuwe peiling hulle is finansieel in die knyp; 13% van dié verbruikers bevind hulle “in ’n krisis” en 32% sukkel om hul maandelikse verpligtinge na te kom.

Selfs ryker huishoudings – dié met ’n inkomste van meer as R500 000 per jaar – trek swaar; net 28% sê hulle is in ’n goeie of baie goeie situasie. Meer as 70% van verbruikers sê hulle sukkel erger as ’n jaar gelede, blyk uit ’n verslag van McKinsey & Company.

Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, sê tot 30 miljoen verbruikers se geld is voor maandeinde op. Dit laat hulle kwesbaar omdat hulle nie genoeg voedsame kos kan koop nie.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê in ’n verklaring dat die regering se ingryping om die stygende prys van brandstof te help versag, verwelkom word, maar dit is nie genoeg nie. Die stygende brandstofprys het ’n beduidende invloed op kospryse.

Enoch Godongwana, die minister van finansies, het verlede Donderdag aangekondig dat die algemene brandstofheffing op elke liter brandstof met R1,50 van 6 April tot 31 Mei verlaag word.

Volgens Agri SA is die verligting in brandstofheffings wel ’n manier om koste te besnoei. Dit sal ’n groot impak op boere se produktiwiteit hê en sodoende help om hulle meer mededingend te maak.

Paul Makube, die hoof van grondverkryging by FNB, het gesê dit is ook moontlik om te sien dat die besparings na verbruikers sal deursyfer.

Die regering het ook onlangs die nasionale minimumloon met R1,50 per uur (van R21,69 tot R23,19), R12 per dag, en R264 per maand op grond van ’n 22-dae-werkmaand verhoog.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article