Die ACVV se Stilwaters Dienssentrum dien die gemeenskap van Worcester al 42 jaar.
“Ons dien die hele gemeenskap van Worcester. Ons dien bejaardes van die ouderdom van 60 af,” verduidelik die bestuurder, Franci Bosman.
Ledegeld kos R60 per jaar en dit sluit in middagetes wat by bejaardes se huise afgelaai word, ’n biblioteekdiens by die sentrum in Durbanstraat, bidure, bybelstudie en gimtrim, asook weeklikse vervoer na en van die Mountain Mill-inkopiesentrum.
“Ons neem ons lede dokter toe wanner dit nodig is. Ons het ook ’n haarsalon op die perseel wat spotgoedkoop is. Ons lede kan ook kom speletjies speel en ons reël gereeld uitstappies en pretdae soos op Valentynsdag of Vrouedag. Ons hou ook ’n Vryburgerbraai en tee.”
ACVV Stilwaters het ook wooneenhede beskikbaar vir bejaardes wat nog na hulself kan omsien. Verskeie dienste word by die huurgeld ingesluit.
“Ons beskik oor 18 enkel- en agt dubbelwoonstelle. Die enkelkamers is een groot vertrek met ’n aparte badkamer en kombuis. Die dubbelkamers het elke ’n aparte kamer. Die eenhede is slegs vir inwoners van 60 tot 77 jaar oud. En hulle moet na hulself kan omsien. Ons het ongelukkig nie ’n siekeboeg of verpleegpersoneel nie. Ons voorsien wel die inwoners van middagetes en hul eenhede word gereeld skoongemaak en hul wasgoed gewas.”
Hoewel die dienssentrum van die ACVV Stilwaters gesubsidieer word, word die deel met die eenhede nie gesubsidieer nie.
“Ons subsidie is met 60% gesny en dit laat ’n groot gat in ons geldsake. Dus is ons afhanklik van skenkings en ons hou baie geldinsamelings-inisiatiewe. Ons hou jaarliks ’n gholfdag, basaars en ons verkoop gebak wat deur ons inwoners gemaak word. Ons verkoop ook maandeliks pannekoek, jaffels, sop, vetkoek en basaarpoedings. En twee keer per maand hou ons ’n klereverkoping op Kerkplein.”
Om nog geld in te samel, is hulle ook besig om ’n resepteboek saam te stel. Die resepte word deur hul lede en inwoners geskryf. Hulle is ook aan die werk om advertensieborde aan een kant van die perseel op te rig. Ondernemings wat op die advertensieborde wil adverteer, kan die dienssentrum kontak.
Bosman verduidelik ook dat hulle altyd van die hulp van vrywilligers kan gebruik maak.
“Dit sal waardeer word as ons vrywilligers kan kry om ons te help met die aflewering van etes elke middag, asook die vervoer van inwoners soos nodig. Natuurlik sal ons ook dit baie waardeer as ons vrywilligers kan kry om ons te help met geldinsameling.”
Die geld wat ingesamel word, sal aangewend word vir die verf van die geboue en die rietdak moet vervang word. Verskeie goed aan die gebou moet herstel word en hulle wil ook graag die binnehof, waar inwoners kuier, opknap.
“Vrywilligers kan selfs net ’n bietjie tyd saam met ons inwoners kom deurbring. Selfs die lede wat nie hier woon nie, word genooi om te kom inloer en ’n paar speletjies te speel of van die biblioteekdiens gebruik te maak.” . Skakel 023 342 0634 vir nog inligting of om by ACVV Stilwaters betrokke te raak.





