Spacelina Kapot (links) en Ronel Pienaar wil ’n kinder- en jeugsorgsentrum in Worcester begin.Foto: Enrico Claassen


Weens die groot omvang van kinders wat mishandel word, is twee veiligheidsouers van Worcester vasberade om so gou as moontlik ’n kinder- en jeugsorgsentrum in dié dorp op die been te bring om dié kinders te akkommodeer.

Spacelina Kapot, ’n veiligheidsouer wat ook ’n kleuterskool bedryf, versorg in dié stadium vyf kinders wat deur die departement van maatskaplike ontwikkeling in haar sorg geplaas is.

Hul ouderdomme wissel van ’n jaar en agt maande tot tien jaar oud.

Volgens Kapot is die kinders van Worcester en omliggende dorpe. Sy sê in ’n stadium het sy ’n kind van Gqberha ingeneem en versorg.

Kapot sê sy kry soms diep in die nag oproepe van die departement wat haar vra om in te gryp.

“Dis nou vir kinders wat op straat woon, wat uit hul ouers se sorg verwyder is omdat hulle mishandel word en wie se ouers nie vir hulle kans sien nie omdat hulle siek is.”

Volgens Kapot is een van die kinders wat sy tans versorg, twee jaar gelede alleen en sonder enige toesig in ’n hok in Zwelethemba aangetref.

Sy was maar ’n paar maande oud.

Kapot sê die kind was in ’n slegte toestand en het aanhoudend gehuil.

Kapot sê verlede jaar het sy ’n vyf maande oue MIV-positiewe seuntjie ingeneem wat by die dood omgedraai het omdat hy nie medikasie ontvang het nie.

“Dokters het geveg om sy lewe. Hy was brandmaer en kon nie eens huil nie. Wanneer hy wou huil, het daar net stilweg ’n traan oor sy een wang gevloei.

“Ek het op ’n Donderdag hospitaal toe gegaan om hom te gaan haal. Hy is nou ’n jaar oud en is baie meer gesond omdat hy gereeld mediese behandeling ontvang.”

Volgens Kapot het sy ook ’n tienjarige seun en sy vierjarige suster wat op straat gewoon het, in haar sorg. Sy sê die kinders is van Worcester, maar is in De Doorns gevind.

Kapot sê sy word veral in Desember oorval met versoeke om kinders in te neem omdat die ouers fees vier, die kinders verwaarloos en hulle dan mishandel.

“Die kinders wat ek al hier ingeneem het, wissel van pasgeborenes tot 14 jaar oud.”

Ronel Pienaar, nog ’n veiligheidsouer, sê sy versorg tans twee kinders. Een van hulle is ’n jaar en vier maande oud. Volgens Pienaar was die kind maar twee maande oud toe sy in haar sorg geplaas is omdat haar ma ’n drankprobleem het. Sy versorg ook tans ’n agtjarige meisie wat bipolêr is.

Kapot sê op haar beurt hulle het tans ’n plek in gedagte waar hulle die kinder- en jeugsorgsentrum wil inrig, maar die plek kort nog baie werk. Volgens haar is onder meer die toilette en krane buite werking. Daar is ook nie elektrisiteit nie.

Voorts benodig hulle onder meer beddegoed, kosvoorraad, klere en ander benodigdhede vir die kinders. “Ons soek enigiets wat sal help om hierdie kinders se lewensomstandighede te verbeter.”

Sy sê indien hulle die plek ingerig kry, sak hulle tot 30 kinders op ’n keer daar kan huisves.

Volgens Kapot word ’n debutantebal op 25 Oktober in die Worcester-stadsaal gehou. Die opbrengs van die kaartjieverkope gaan gebruik word om die beoogde perseel op te knap.

Kaartjies kos R100 per persoon en is beskikbaar by Kapot (072 934 3217) en Pienaar (079 730 5288). Die verrigtinge begin om 17:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article