Bykans vier dekades gelede het Frans Wiesie (59) ’n skolerugbywedstryd bygewoon en moes dadelik ’n gedig skryf oor hierdie skitterende vertoning. Vandeesweek het hy sy nuutste digbundel uitgereik.
Wiesie, ’n Bolander in murg en been, het sy vormingsjare in die omgewing deurgebring en op ’n dag in Caledon sy eerste gedig geskryf. Die gogga het gebyt en sedertdien vloei die ink uit sy pen en sy roerende woorde in harmonie.
“Ek is dankbaar vir oud-onderwysers en die gemeenskappe van Worcester en Rawsonville wat in my glo. Sonder hul ondersteuning het ek dalk al die pen neergesit, maar hulle inspireer my,” verduidelik Wiesie.
Hy het ook Donderdag 6 Oktober ’n bekendstelling in Rawsonville gehou om sy bundel te vier.
“Dit was ’n wonderlike aand met interessante sprekers. Dit is my vierde bekendstelling wat ek bywoon en ek sal altyd dankbaar wees.”
Hoewel Wiesie al voorheen twee digbundels uitgegee het en al in samestellings van verskeie digters verskyn het, is hy vreeslik trots op sy nuutste bundel, Geleende Tyd.
“Covid-19 was ’n rowwe tyd vir meeste mense. Dit het my weer eens gewys dat ons as mens ’n tyd het om te kom en ’n tyd om te gaan. Alles wat ons het en alles wat ons is, is net genade – en dit is aan ons geleen. Ons tyd is min en ons moet die beste maak met die tyd wat ons het.”
Sy digbundel spog met diep deurdagte gedigte wat hoop gee en wat die lewe tot in die fynste detail vier. Iets waarop hy sterk klem plaas, is die idee dat die sukses van ’n ieder en ’n elk gevier moet word.
“Elkeen se sukses is belangrik. Ons moet die son oor ander sien skyn en deel in mekaar se geluk. Ons moet mekaar se sukses vier. Ons elkeen het die vermoë om ’n verskil te maak in ander se lewe – om die wêreld ’n beter plek vir almal te maak.”
Hy spoor ook jong mense aan om hul tyd op aarde in iets positiefs te verander.
“Jong mense moet elke geleentheid aangryp. Jy moet self kies hoe jy jou lewe wil lei en die beste maak van die geleenthede wat oor jou pad kom. Leef jou lewe asof vandag jou laaste dag is,” vertel hy aan Standard.
Sy digbundel is beskikbaar in harde kopie en kan direk by hom bestel en gekoop word.
• Geleende Tyd se koste beloop R120 per bundel en kan via e-pos bestel word by frans.wiesie@rclfoods.com of per oproep by 061 592 1835.





