Een van die sypaadjies wat deur BVM herstel is.


Wanneer ’n mens in die middedorp loop, moet jy plek-plek mooi loop om gate in die sypaadjies te vermy.

’n Leser het uitgereik na Standard & Gazette om te kla oor die haglike toestand van sypaadjies.

“Dit is hartseer om te sien hoe vervalle die sypaadjies in die middedorp lyk – veral daai stuk voor die stadsaal. ’n Mens sou dink dat daardie stuk ten minste gereeld opgeknap sou word. En wat my nog meer woedend maak, is die feit dat ons soveel blinde en swaksiende inwoners het. Dis gevaarlik vir hulle om op hierdie sypaadjies vol gate te stap. Die paaie word hier en daar reggemaak; hoekom kan die sypaadjies in die middedorp nie dieselfde aandag geniet nie? Dit moet sekerlik op die lys van prioriteite wees. Ek sidder om te dink hoe dit in ander dele van die dorp lyk – veral in woonbuurte,” meen die leser.

Volgens die Breedevallei-munisipaliteit word die sypaadjies as deel van die dorp se instandhoudingskedule herstel.

“Die sypaadjies in Worcester word tans herstel as deel van ons roetine-instandhouding. Wanneer die publiek ’n fout op die sypaadjies of by inspeksie aanmeld, word interne spanne gemobiliseer om die sypaadjie te herstel. Ook het die Breedevallei-munisipaliteit saam met die Worcester- sentrale verbeteringsdistrik (WCID) saam die middedorp-sypaadjies geplavei met plaveisel in ’n gefaseerde benadering. Dit verseker dat die sypaadjies esteties aangenaam en veiliger is vir voetgangergebruik en dit verminder ook die instandhoudingsbehoeftes van sypaadjies,” het Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die BVM, gesê.

Volgens die munisipaliteit is in verskeie ander buurte al aandag gegee aan die herstel van sypaadjies en maak hulle melding van Rabie- en Trappestraat, Hoogstraat in Meiringspark en die sypaadjies by die spoorwegbrug.

“Dis alles goed en wel, maar dis almal op plekke waar dit nie ’n noodsaak is of was nie. Die middedorp het baie voet- verkeer, en dis ook waar ons blindes die meeste van die tyd rondstap. Dit maak nie sin dat dit nie eerste op die lys is nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article