“Dit is al bewys dat ’n geïntegreerde benadering tot die bekamping van misdaad tot ’n afname in misdaad reg oor die Wes-Kaap lei.”
Só het lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse polisiekommissaris, verlede Woensdag (30 Oktober) in sy openingsrede by die bekendstelling van die Kaapse Wynland se “veiliger feestyd”-veldtog in die Bolandpark-stadion in Worcester gesê.
Die bekendstelling van die veldtog het die oggend vroeg begin met ’n optog deur die sentrale sakekern van Worcester.
Wetstoepassingsbeamptes, onder wie die polisie, die plaaslike en provinsiale verkeerspolisie en private sekuriteitsagentskappe, het aan die optog deelgeneem.
Na afloop van die optog het Patekile gesê op die oggend van die bekendstelling (30 Oktober) het ’n geïntegreerde benadering tot die bekamping van misdaad tot altesaam 96 inhegtenisnemings in die Kaapse Wynland-distrik gelei, wat misdade soos poging tot moord, georganiseerde misdaad, alkohol-, dwelm- en bendeverwante misdade asook afpersing insluit. Hy het klem gelê op die feit dat gemeenskapsdeelname in die bekamping van misdaad deurslaggewend is in inhegtenisnemings en ook bydra tot die beveiliging van gemeenskappe.
“Ons staan aan die vooraand van die feestyd en veral met die toename in geslagsgeweld en kindermishandeling moet ons as ’n kollektief ons kinders veilig hou.
“Met die skooljaar wat nog nie tot ’n einde gekom het nie, moet ons as gemeenskap verseker dat ons kinders skool bywoon.”
Raadsheer Margaret Sampson, die uitvoerende onderburgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, sê: “Deur hande te vat, kan ons saam ’n beter Kaapse Wynlanddistrik bou. “Ons moet ons gemeenskappe aanmoedig om saam met wetstoepassingsagentskappe te werk om ’n veiliger gemeenskap te skep.”
Die Wes-Kaapse adjunk-polisiekommissaris, genl.maj. M. Manci, se boodskap aan alle voornemende geweldsmisdadigers lui: “Jy gaan toegesluit word en dan gaan alle staatsaanklaers versoek word om met verlof te gaan vir die Desember-vakansie, sodat jy eers in Januarie 2025 in die hof kan verskyn.”
Sabastian Abrahams, die groepvoorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, het die gemeenskap gesmeek om deel te vorm van die gemeenskaps-veiligheidstrukture en kragte met wetstoepassingsagentskappe saam te snoer sodat ’n verenigde front teen misdaad gevorm kan word. “Ons kan misdaad klop as ons saamwerk.”
Juben von Willingh, die onderburgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, sê: “Ons moet ’n beplande benadering tot misdaadbekamping hê en ons laat lei deur ons gemeenskapsveiligheidsplanne om suksesvol te wees.”




