Faye-Jalique Marran, wat glo deur een van haar onderwysers aangerand is, saam met haar ma, Hayley, ná die voorval by die skool. Foto:

Credit: SYSTEM

’n Sewentienjarige leerder by die Hexvallei Sekondêre Skool in De Doorns beweer sy is erg deur een van haar onderwysers aangerand terwyl ’n ander een dit aangehits het.

Faye-Jalique Marran verduidelik terwyl sy en ’n ander meisie baklei het, het ’n manlike onderwyser tussen die twee van hulle gaan staan.

“Ek wou toe verby hom gaan, maar toe gryp hy my aan die nek. Ek het losgeruk, toe gryp hy my arm, trek my by die trappe af en neem my na ’n leë kantoor toe. Hy het my by die kantoor ingetrek en toe geklap. Ek wou by die vertrek uit, maar toe stoot hy my teen die bors. Die meneer van die kantoor het toe ingekom en die deur gesluit en gesê ‘donder haar nog’. Toe klap hy my aanhoudend. Ek het duiselig geraak en my oog het vaal geraak,” verduidelik Faye-Jalique.

Die ander meisies is toe by die vertrek ingeroep.

“Die meneer sê toe vir my ‘ek sal jou gevreet in die grond trap’ en vir die ander het hy gesê ‘kom, julle tefietjies, kom staan hier’. Die meneer wat die deur oopgesluit het, het een van die ander met ’n pen gegooi, maar gemis. Toe sê hy ‘jy staan nog so, tel op die pen, dis hoekom julle so druip’.”

Faye-Jalique is ná die voorval dokter toe.

“Ek kan nie uit my oog sien nie. Die dokter het ma na ’n spesialis verwys.”

Faye-Jalique is glo geskors en is in kennis gestel dat die verhoor eers vandag (Donderdag 9 Februarie) sou plaasvind.

Sy het Dinsdag vertel die onderwyser wat haar geklap het, het haar Vrydag ook geïntimideer.

“Hy het in sy voertuig gery terwyl ek in die straat geloop het. Toe hy my sien, het hy vinniger gery en op my afgepyl. As ek nie padgegee het nie, sou hy my raakgery het.”

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het bevestig hulle dra kennis van die voorval.

“Ons het ’n klag oor die voorval ontvang. ’n Ondersoek is begin en dit duur voort. ’n Maatskaplike werker het die skool besoek en die distrik sal ondersteuning aan die leerders bied,” het Millicent Merton, ’n woordvoerder van die WKOD, gesê.

Volgens Hayley Marran, die meisie se ma, is haar dogter nooit in kennis gestel dat ’n maatskaplike werker by die skool ontplooi is nie. Sy sê haar dogter is tans erg getraumatiseer.

“Dit lyk asof alles haar regtig Sondag getref en ingesink het. Sy wil nêrens sonder my gaan nie. Sy wil nie in haar eie kamer slaap nie, want sy sê haar kamer druk haar,” het die ma vertel.

“Sy wil ook nie met enige mans praat nie. Sy slaap nou in die voorkamer. Ek het nou die aand by haar gesit en skielik het sy in haar slaap begin ruk en begin slaan. Sy het amper haar kind, wat langs haar gelê het, raakgeslaan.”

Verder verduidelik sy die dokter het gesê dit blyk haar dogter se lens in haar oog waaruit sy nie kan sien nie, het as gevolg van die trauma teen haar oog geskuif.

Faye-Jalique het Dinsdag gesê sy is gestres.

“Ek voel oukei, maar ek is erg gestres. Ek kan net deur my een oog sien. Die ander oog is baie seer wanneer ek in die helder lig is.”

Die De Doorns-polisie het bevestig Faye-Jalique het Woensdag 1 Februarie ’n klagte van aanranding by die De Doorns-polisie aangemeld.

“Sy het ook Maandag 6 Februarie ’n klagte van seksuele aanranding teen dieselfde onderwyser aangemeld en wou eerder die klag by ’n vroulike polisiebeampte aanmeld. Die skool se hoof het ook ’n klagte van intimidasie teen die ma aangemeld,” het ’n woordvoerder van die De Doorns-polisie verduidelik.

Volgens Hayley verstaan sy nie hoekom ’n klagte teen haar aangemeld is nie. “Ek het by die hoof se kantoor ingebars uit woede, maar hy het gesê hy gaan nie met my praat nie, want hy was in ’n vergadering. Hulle beweer ek het verskeie dreigemente gemaak en wou die meneer wat my dogter geklap het se motor beskadig, maar dit is nie waar nie. Teen die tyd wat hulle beweer die goed plaasgevind het, was ek al op pad uit by die skool en op die foon met die polisie.”

Sy sê die skool het glo 72 kringtelevisiekameras. “Toe ek die onderwyser, wat die deur in die klas gesluit het en wat ook die skool se adjunkhoof is, vra, het hy bloedrooi geraak en gesê die kameras werk nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article