Een mens is dood en ’n ander beseer in ’n ongeluk op die R43. Foto’s: One-Way Towing


’n Hele paar ongelukke het die afgelope paar dae op plaaslike paaie gebeur.

Een mens is dood en ’n ander is beseer toe die voertuig waarin hulle gery het, teen ’n vragmotor op die R43 (Wolseleypad) gebots het. Die polisie het omstreeks 17:20 inligting oor die botsing ontvang.

“Met hul aankoms op die toneel het hulle ’n vragmotor half in die middel van die pad gekry staan,” verduidelik AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie.

Sy noem ook dat die vragmotor in die rigting van Worcester gery het.

“Die bestuurder van die vragmotor het ’n harde geluid gehoor. Hy het onmiddellik gestop om te gaan kyk wat dit was. Dis toe hy afkom op die rooi Mazda wat onder een van die agterwiele beland het. Die insittendes van die motor was in die wrak vasgekeer. Een insittende is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar en die ander is met ernstige beserings na die Worcester-hospitaal vervoer. Die vragmotorbestuurder het geen sigbare beserings opgedoen nie. ’n Saak van strafbare manslag word tans ondersoek,” sê Jacobs.

Nog iemand is Sondag (1 September) op die R43 dood.

“ ’n Seun en sy ma was Sondagoggend in hierdie ongeluk betrokke. Die polisie is om 04:45 in kennis gestel van die ongeluk. Die twee Malmesbury-inwoners het in ’n wit Citi Golf gery. Dit is tans onduidelik hoe die ongeluk gebeur het, want geen ander voertuie was betrokke nie.”

Die bestuurder van die motor het verskeie beserings opgedoen terwyl sy passasier, wat ook sy ma is, in die ongeluk omgekom het.

“Terwyl paramedici die bestuurder gehelp het, is die lyk van sy ma in ’n watersloot, nie ver van die motor af nie, gevind. Dit blyk sy is met die impak van die ongeluk uit die voertuig geslinger en is op slag dood.”

Sondag (1 September) het ’n vragmotor wat piesangs en avokadopere vervoer het, op die N1 by De Doorns van die pad af gery. Volgens inligting het inwoners in die omgewing baie vinnig die vragmotor van sy vrag begin stroop en later die goedere op die dorp verkoop. Die bestuurder is ongedeerd.

’n Gesin was Dinsdag (3 September) ook ongedeerd toe die bakkie waarin hulle gereis het, op sy dak beland het.

“Die gesin is gelukkig om niemand met beserings te hê nie. Dit is ongehoord. Die gesin was op pad Kaap toe vanaf ’n begrafnis in die Oos-Kaap. By die Meiringspark-verkeerslig op die N1 was dit groen vir hulle. ’n Trok het in die aankomende baan gestaan en gewag om by Meiringspark in te draai, maar die trok het egter nie gewag tot die bakkie verby is nie en dis toe die botsing gebeur. Die vragmotorbestuurder is ook ongedeerd.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article