’n Plaaslike kunstenaar se eerste solo- uitstalling het Vrydag by die Du Toitskloof-proelokaal begin.
Madeleine du Toit (32) is haar hele lewe lank aan kunste blootgestel en dit het gewis ’n invloed op haar lewenspaadjie gehad.
“Ek het in ’n baie kunstige huis grootgeword. My pa, Jaco Sieberhagen, was ’n beeldhouer. Hy het ons altyd aan verskeie vorms van kuns blootgestel. Hy het ons van kleins af tegniese vaardighede geleer oor hoe om kuns te ‘lees’,” verduidelik Du Toit.
Later in haar lewe, toe sy in gr. 10 was, was visuele kuns een van haar vakkeuses. “Ek was toe bevoorreg om my klasse by die Hugo Naudé-kunssentrum te ontvang. Dit was my eerste formele blootstelling aan kuns.”
Ten spyte van haar diep liefde vir die kuns het sy dieselfde liefde vir wetenskap gehad en besluit om ná skool in ’n wetenskaplike rigting te gaan swot.
“Op die ou einde het ek wingerdkunde studeer, en dit is wat en vandag nog doen.”
Maar tussen haar studies deur het sy steeds in vakansies geskilder en selfs toe sy begin werk het, het sy hier en daar oor naweke aan haar kuns gewerk.
“Ek was egter twee jaar gelede in ’n motorongeluk en het my regterarm gebreek. Dit was reg aan die begin van parstyd. Terwyl ek by die huis was, het my man op ’n kunskompetisie afgekom en my aangemoedig om daarvoor in te skryf. Ek het toe besluit om in te skryf en het elke dag ’n bietjie aan my stuk gewerk. Om te skilder, was soos fisio vir my gebreekte arm. Ek was een van die top-40 finaliste en my kuns is in ’n galery uitgestal. Ek het verlede jaar weer ingeskryf en was weer een van die topfinaliste.”
Sy het só in kontak gekom met iemand van die Du Toitskloof-wynlandgoed.
“Hulle het onlangs hul proelokaal verander en my werke is die tweede uitstalling daar.”
Sy bieg dat dit ’n senutergende proses was om al twintig werke vir die uitstalling gereed te kry.
“Ek het ’n ander benadering gevolg en probeer om baie emosie in my werk in te bring, sodat die kyker daardeur geraak kan voel, en ook sodat dit ’n ongelooflik positiewe ervaring vir hulle kan wees. Dit is ook my manier waarop ek mense wys wie ek is en myself bekend stel,” vertel sy.
Die titel van die uitstallings is Different folds en is geïnspireer deur die Japannese kunsvorm, wat as origami bekendstaan.
“Die Japannese kunsvorm van papiervou is baie uniek en fassinerend. Jy begin met ’n stukkie papier en eindig met ’n baie mooi figuurtjie. Dit laat my baie dink aan vrouwees – hoe die lewe jou vou en die voumerkies los, en hoe dit jou maak wie jy is – uniek.”





