’n Bekende van Rawsonville se lewe is Maandag kortgeknip toe hy in ’n trompop-botsing betrokke was.
Pieter Farao was Maandag onderweg om boumateriaal na sy oom toe te neem toe hy en sy insittende albei op slag in ’n motorongeluk dood is.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie, het die bakkie teen die versperring op die Rawsonvillepad gebots en toe reguit op ’n aankomende vragmotor afgepeil.
“Volgens die bestuurder van die vragmotor, wat in die rigting van Rawsonville gery het, het die man teen die versperring vasgery en moes toe sy stuurwiel gepluk het, waarna hy trompop teen die vragmotor gebots het,” sê Jacobs.
“Hy en sy insittende is albei op slag dood. Die vragmotorbestuurder is ongedeerd.”
Die ongeluk het omstreeks 14:00 gebeur. ’n Stop-en-ry-stelsel is daarna in plek gestel. Teen 16:00 het nooddienste op die toneel gewag vir toerusting van die Kaap af om die oorledenes uit die wrak te sny.
Farao se oom, Flip Farao, het die tyding eerste ontvang.
“Ek het die nuus ontvang en onmiddellik vir sy vrou gaan sê. Dit was hartverskeurend, sy was hartgebroke. Ons het toe na die toneel toe gegaan,” vertel Flip Farao.
Hy sê verder dat hierdie ’n groot verlies vir die Farao-familie is.
“Ons het ’n anker in ons familie verloor. Hy was altyd hulpvaardig en was ’n goeie man vir sy vrou en ’n goeie pa vir sy twee kinders.
“Hy was ook baie betrokke by die gemeenskap, asook by die kerk waar hy as leraar aangestel is. Hy kon in enige situasie of geselskap aanpas. Of dit nou ’n grapperige situasie was, of ’n ernstige een, hy kon homself aanpas.”
Sy werknemer wat saam met hom in die ongeluk was se naam was glo Coby, maar die Farao-familie het hom nie regtig geken nie en kon nie kontakbesonderhede vir sy gesin of familie verskaf nie.
. In nog ’n ongeluk wat Dinsdag op die N1 tussen De Doorns en Touwsrivier plaasgevind het, is die bestuurder van ’n vragmotor dood.
Die vragmotor het in die rigting van Touwsrivier gery toe die ongeluk gebeur het.
Verdere besonderhede oor die ongeluk is nog nie bekend nie.





