’n 25-jarige man is in ’n motorfietsongeluk naby Bonnievale dood.


’n Man het sy lewe in ’n noodlottige ongeluk naby Bonnievale verloor en dit het opnuut weer die aandag op padveiligheid gefokus.

Volgens die Bonnievale-polisie word ’n saak van strafbare manslag ondersoek ná ’n ongeluk op 27 April op die R317, naby ’n plaas buite Bonnievale.

“By ons aankoms op die toneel het ’n motorfiets in die pad gelê en langs die pad het ’n volwasse man gelê wat later deur mediese personeel dood verklaar is.”

Die oorledene is deur ’n familielid geïdentifiseer as ’n 25-jarige man van Bellville.

ROekelose bestuurders

Standard het vroeër berig oor die tragiese wyse waarop Claude van Staden, ’n eertydse verkeersbeampte, deur ’n taxi doodgery is.

Willie Vrey, ’n inwoner van Robertson, sê mense oortree elke dag die padreëls en hy vra vir ingryping deur die verkeersdepartement.

“Verantwoordelikheid vir die dood van daardie verkeersbeampte moet voor die deur van die verkeersdepar­tement gelê word. Hulle moet ingryp en sigbaar wees, anders gaan nog mense hul lewe verloor,” sê hy.

Vrey sê die voertuie wat bedags in Adderleystraat in Robertson ry, gehoorsaam glad nie die reëls nie.

“As jy hier by Greendoor in Adderleystraat kom sit, sal jy sien geeneen stop by daardie stop nie. Hulle jaag en steek mekaar by die stop verby.”

Hy sê die taxi’s maak ook wat hulle wil. Vrey vra dat verkeersbeamptes reg en orde moet handhaaf en spoedkameras moet opsit om te verseker dat inwoners by die spoed- en padreëls hou.

veiligheid op paaie

Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke sê spoed is ’n ernstige probleem.

“Hoe vinniger jy ry, hoe minder tyd het jy om op ’n noodgeval te reageer en hoe meer ruimte het jy nodig om ’n ongeluk te vermy,” sê hy.

Spoed is onverantwoordelik en gevaarlik. Die hoogste snelhede wat vir die week (19-24 April) deur die departement aangeteken is, was soos volg:. 207 km/h in ’n 120 km/h-sone;. 144 km/h in ’n 100 km h-sone;. 124 km/h in ’n 80 km/h-sone;. 104 km/h in ’n 60 km/h-sone.

“Motorbestuurders wat te vinnig ry, waag die lewe van die mense in hul voertuie, én die van ander. Dit is die beste om stadig en versigtig te reis.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article