Die Langeberg-munisipaliteit is geruk toe drie van sy werknemers Vrydag (6 Desember) op pad van ’n jaareindfunksie in ’n motorongeluk gesterf het.

Die oorledenes is Mava Shude (33) van Worcester, Bathandwa Lephaila (33) van Nkqubela, Robertson, en Jacoline Matthys (46) van Ashton.

Shude was die munisipaliteit se finansiële hoof. Lephaila was ’n senior klerk by datavaslegging, terwyl Matthys ’n kassier was.

Joseline Buis (48), Shude se persoonlike assistent, het die ongeluk oorleef. Sy is in ’n ernstige toestand in die hospitaal.

Standard Breederivier Gazette verneem Buis en haar kollegas het uit die rigting van Ashton in die rigting van Robertson gereis toe die voertuig gerol nadat die bestuurder glo beheer daaroor verloor het.

Daniël Lubbe, die munisipale bestuurder by die Langeberg-munisipaliteit, sê die oorledenes se harde werk, professionaliteit en positiewe invloed sal met liefde deur hul kollegas en die gemeenskap wat hulle gedien het, onthou word.

“Ons gedagtes is by die families van mnre. Shude, Lephaila en me. Matthys gedurende hierdie moeilike tyd. Hul nagedagtenis sal in die harte bly van almal wat die voorreg gehad het om saam met hulle te werk.”

Lubbe het Buis ’n spoedige herstel toegewens.

Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) het die munisipaliteit se medelye by monde van sy munisipale bestuurder, David McThomas, teenoor Langeberg-munisipaliteit en die bedroefde families en vriende van die oorledenes betuig.

Ook dié munisipaliteit het Buis ’n spoedige herstel toegewens.

Sers. Wesley Twigg, ’n polisiewoordvoerder, sê die ongeluk het Vrydagaand omstreeks 19:20 op die Robertson-Ashton-pad gebeur.

Volgens hom was net een voertuig in die voorval betrokke.

Twigg sê die omstandighede rakende die voorval word ondersoek.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

. Enigiemand met enige inligting oor die voorval word vriendelik versoek om die polisie se tolvrye Stop Misdaadnommer by 086 001 0111 te skakel.

. Intussen is ’n negejarige kind Maandagaand (9 Desember) oorlede toe ’n Mercedes-vragmotor in die Mazda CX5 waarin hy ’n insittende was, vasgery het.

Die botsing het omstreeks 22:35 op die R46-pad in Tulbagh plaasgevind.

Lt.kol. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, sê voorlopige inligting dui daarop dat die Mazda aan die kant van die pad geparkeer was terwyl die insittendes gewag het vir hulp om ’n pap band te herstel.

Hy sê die vragmotor het van agter teen die voertuig gebots.

Benewens die kind wat in die botsing gesterf het, is vier ander insittendes van die Mazda met ligte beserings na ’n mediese fasiliteit geneem.

Pojie sê die bestuurder van die vragmotor is nie beseer nie, maar geskok.

Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article