Ridewaan Arries met die toekenning wat hy onlangs ontvang het. Foto:


’n Oud-Worcesteriet het onlangs ’n toekenning ontvang vir ’n boek wat hy geskryf het.

Ridewaan Arries (37) is in Worcester gebore en getoë. Hy het sy grootwordjare in Riverview deurgebring. Hy het egter op die ouderdom van 26 jaar uit die dorp getrek om ’n beter toekoms vir homself te bou. Vir die afgelope 12 jaar is hy ’n onderwyser.

“Terwyl ek nog op skool was, het ek by allerhande snert betrokke geraak. Ek was lid van ’n groep en ons het onsself die ‘Rude Boys’ genoem. Ons is geboelie en dit het daartoe gelei dat ons baie nonsens aangevang het.

“Ons het later begin inbreek, ons het vuurwapens bekom, ons het dagga begin rook en ander dwelms uitgetoets,” vertel Arries.

Sy draaipunt het gekom toe hy in gr. 11 uit die skool geskors is.

“Ek het ’n onderwyser met iets gegooi en is geskors. Dis daar dat die ommeswaai in my lewe gekom het. Ek het ’n droom gehad dat ek iemand in die lewe wil wees en het daarnatoe begin werk.”

Tussendeur die gebeure van sy lewe het Arries altyd geskryf. Dit was sy manier om dinge te verwerk.

“Maar daai tyd kon ek nie openlik sê ek skryf nie. ’n Mens is altyd as anders beskou as jy dit gedoen het en is soms daaroor ook geboelie, so ek het dit altyd ’n geheim gehou.

“Ek het ook begin rymklets en al by ’n hele paar expression sessions deelgeneem. Almal het altyd gesê ek is talentvol en dat ek iets in my het. Ek het nie veel aandag daaraan gegee nie.”

Ná ’n lang gestoei oor die besluit is sy boek uiteindelik in 2022 deur Shofa Books and Distributions gepubliseer.

“Ek was bang om die boek te laat publiseer, want dit het beteken dat ek myself in die boek expose.

“Ek wou nie noodwendig iets deel waar ek myself kwesbaar maak nie. Maar my vrou, en baie ander mense, het my aangemoedig om dit te doen.”

Die boek, The Power of a Decision, handel oor hoe die keuses wat ’n mens maak kan uitdraai.

“Keuses kan net een van twee maniere uitdraai, óf dit is vir jou, óf dit is teen jou. Die keuse wat jy in die oomblik maak, is die keuse om te survive, daar is nie so iets soos ’n regte of verkeerde keuse nie.”

Aan die einde van Julie is hy na die African Honouree Awards genooi waar hy ’n African Honouree Author’s Award ontvang het.

“Die gevoel is onbeskryflik. Toe ek daar aankom, was ek sprakeloos, die oomblik was te groot.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article