Onbekende bedrag geld geroof met bom-dreigement by FNB in Worcester

Hoogstraat in Worcester was vir ’n uur gesluit na ’n verdagte na wie die polisie tans soek ’n bom-dreigement gemaak het by FNB en weg is met ’n onbekende bedrag geld. Foto: Luciano du Toit


Skaars twee dae na Kersfees was die FNB-tak in Hoogstraat in Worcester vroeër vandag verlate nadat ’n teller by die bank gedreig is deur iemand wat vermoedelik ’n bom gehad het.

AO Vathiswa Jacobs, die Worcester-polisie se woordvoerder, het bevestig dat die persoon, vermoedelik ’n man met ’n swart hoed op, ’n sak aan ’n teller by die bank oorhandig en haar ingelig het dat daar ’n bom in is en as sy die paniek-knoppie druk dan sal hy die bom laat ontplof.

“Die man het ’n onbekende bedrag geld by die vrou gevat voordat hy uit die bank gehardloop het.”

Die tyd van die voorval kon nie bevestig word nie, maar ’n ooggetuie wat op die toneel was kort na die polisie opgedaag het, het vertel dat die insident tussen 14:30 en 14:40 plaasgevind het.

Kort na die voorval het die Priority Care Ambulansdiens op Facebook ’n plasing gedeel waar hul die gemeenskap waarsku om die gebied te vermy en alternatiewe roetes te gebruik om hul bestemmings te bereik.

Jacobs kon nie veel uitbrei oor die voorval nie maar bevestig dat die polisie deur beeldmateriaal werk om vas te stel wie die verdagte is.

Ongeveer ’n uur na die voorval is die afgebakende deel van Hoogstraat tussen PEP en FNB weer oopgemaak vir die publiek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article