Sondagmiddag het View of Hope- sokkerklub gaan besoek aflê in Franschhoek, om teen die tuisspan Franschhoek United kragte te meet.

Hierdie wedstryd is gekenmerk deur verskeie omstrede beslissings. Die tuisspan behaal vroeg in die wedstryd ’n doel, met die lynregter se vlag omhoog, maar die skeidsregter ken die doel toe (1-0).

Skaars vyf minute later kry Hope ’n strafdoel vyftien treë buite die groot boks en Jonathan Prins lê aan met die strafdoel. Die bal gaan deur die doelwagter se arms, en dis ook die gelykmaker (1-1). Skaars vyftien minute later teken Prins Hope se tweede doel aan (1-2). Dit is ook die rustyd telling.

Ná rustyd maak albei spanne veranderings aan hulle beginspanne, en dit verseker dat Hope met doelgerigtheid aanval; veral die jong Waleed Hollenbach terroriseer die tuisspan met sy teenaanvalle van agter Hope se verdedigers. Vanuit een van sy lopies skop hy ’n dwarsskop wat gunstig spat vir Fabian Esterhuizen, en hy maak seker dat hy die kol tref (1-3). Ná slegs een minuut teken die tuisspan sy tweede doel aan (2-3).

Met slegs tien minute oor kry Jueyren November ’n rooikaart en net die skeidsregter weet waarom hy dit toegeken het.

Ná verskeie besware van die besoekers se skare gelas die skeidsregter die wedstryd af nadat dit reeds tien minute oor die tyd geloop het en die telling op 2-3 in Hope se guns gebly het.

Waleed Hollenbach word deur die bestuurspan as speler van die wedstryd aangewys vir sy briljante vertoning.

View of Hope het hierdie naweek ’n afnaweek; hul volgende wedstryd is die volgende Saterdag, 12 November, teen Try Again van Robertson.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article