’n Mensemens par excellence met ’n hart van goud en passie vir haar medemens. Safida Uys is verlede 13 Augustus in die plaaslike hospies oorlede nadat sy twee weke gelede daar opgeneem is.

Safida, ’n gebore en getoë Worcesteriet, het, benewens die feit dat sy ’n toegewyde lid van die AME Gemeente Sion se Women’s Missionary was, ook saam met haar man uit hul eie sak jaarliks Kersfees- en Nuwejaarsetes aan haweloses op die plein uitgedeel. Verder het sy ook gereeld toebroodjies aan kinders wat elke dag verby haar huis in Hartwiglaan loop, uitgedeel.

Alhoewel pankreaskanker reeds voor die covid-pandemie by haar gediagnoseer is, het sy volhard in dit waarvoor sy geroepe gevoel het. Sy moes egter sowat twee maande gelede halt roep en is kort voor haar dood in die hospies opgeneem.

Safida het haar hoërskoolloopbaan aan Esselenpark Sekondêre Skool voltooi en as hoërskoolleerder was sy ten nouste betrokke by skool-aktiwiteite. Sy was later een van die voorbokke by die opstande oor die vrylating van wyle Nelson Mandela en later ook by die studente-onluste van 1976.

Sy en haar oorlede ma, Amina, het later toere na veral KwaZulu-Natal vir leerders onderneem, waar hulle onder meer geskiedkundige bakens besoek het.

Sy het haar ook as verpleegkundige bekwaam en het ook later op klein skaal met beeste en hoenders geboer. Verder het sy by PA Venter Shopfitters as klerk gewerk.

Haar ander passie was uitreiking en geestelike sendingwerk. Saam met haar man, Graynem, was sy betrokke by uitreikingswerk in Touwsrivier onder die vaandel van Fire Work Ministries, terwyl sy en haar jare lange vriendin Amina Jeftha ook kankerpasiënte in Riverview en die Riverview-woonstelle versorg en geestelik bearbei het.

Benewens haar man laat sy ook twee seuns, Riaan en Eugene, en ’n dogter, Inge, en twee kleinkinders agter.V ’n Roudiens word vanaand (Donderdag 18 Augustus) om 19:00 by die AME kerk Sion gehou. Haar begrafnis is Saterdag (21 Augustus) om 12:00 by haar huis by Hartwiglaan 161 terwyl die diens in die kerk om 13:00 sal plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article