Die Vryburgers Omgeemense van Worcester se Omgeedames is verlede naweek as die korps met die aktiefste Omgeedames-afdeling in Suid-Afrika aangekondig.
Die jaarlikse dinee is vanjaar in George gehou en die prys is deur die burgerraad van Omgeemense van Suid-Afrika aan die plaaslike tak toegeken. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat die Worcesterse Omgeedames hierdie prys wen.
Elet de Waal, voorsitter vir die afgelope twee jaar van Omgeemense van Worcester se Omgeedames, was baie opgewonde toe hul naam weer die afgelope naweek as wenners geroep is.
Die prys is gegrond op die hoeveelheid projekte wat die lede gedurende die jaar aanpak.
“Elke jaar dien ons ’n verslag by die burgerraad in oor al die projekte wat ons aangepak en voltooi het. Die Omgeedames fokus veral op geldinsameling. Die geld word gebruik om verskeie instansies in die gemeenskap te help, soos die kosblik-projek by verskeie skole, waar ons eetgoed en lekkernye in kosblikkies pak, wat dan uitgedeel word aan kinders wie se ouers nie altyd die inhoud vir kosblikke kan bekostig nie. Ons maak ook sop in bottels waar ons droësopbestanddele in leë koffiehouers pak en aan mense uitdeel. Ons help ook graag by die onderskeie ouetehuise in die dorp,” sê De Waal.
Sy het as gevolg van haar man by hierdie plaaslike Vryburgers-organisasie aangesluit en is van mening dat dit ’n baie goeie besluit was.
“Dit is vir my flippen lekker om deel die Omgeedames te wees. Dis lekker om nuwe mense te leer ken en dis vir my lekker om ander mense te help. Dit is baie kosbaar om te sien hoe dankbaar mense is en om die waardering vir wat hulle ontvang het, op hul gesigte te sien.”
Sy sê dit was haar doel dat die lede weer vanjaar daardie prys moes wen, “en ek het êrens gehoor dat Worcester eintlik ’n hele klomp jare gelede hierdie spesifieke trofee geskenk het, so dis net reg dat hy weer – vir die tweede agtereenvolgende jaar – huis toe kom.”
Sy het ook haar mede-Omgeedames vir hul harde werk bedank.
“Baie dankie vir almal se hulp en harde werk en bystand. Ons is net ’n lekker klomp vroue wat lekker saamwerk.”





