Nona se Sopkombuis in Rawsonville is nou ’n geregistreerde maatskappy sonder winsbejag en is steeds bedrywig om die gemeenskap te dien.
Sophie de Klerk het nog voor die covid-pandemie die land getref het haar gemeenskap begin dien. Die sopkombuis is geregistreer onder die naam Rawsonville Gemeenskapsontwikkeling en doen meer as om net die gemeenskap te voer.
“Nog lank voordat Covid-19 sy kop uitgesteek het, was ek reeds betrokke in die gemeenskap. Covid het Suid-Afrika in 2020 binnegekom en het veroorsaak dat baie mense hul werk verloor en menige huisgesinne swaar laat trek, finansieel. Dít is toe ek begin het om sop en kos, asook party dae toebroodjies, te maak en aan die minder- bevoorregtes te gee in my gemeenskap, grotendeels in Hammat Square,” vertel De Klerk.
Dit is dus die storie van die nederige begin van Nona se Sopkombuis.
“Later het ek en my span, Sheryl Smit en Florina Roux, baie hulp gekry van omliggende boere deur middel van skenkings van groente en by kere ook kospakkies wat ons vir die mense kon gee wat dit broodnodig gehad het.”
Daar was egter tye waar ander organisasies en besighede nie skenkings aan die sopkombuis kon maak nie, omdat De Klerk-hulle nie ’n geregistreerde organisasie was nie.
“Daar was egter kere dat mense ons nie wou help met skenkings nie en dit is toe dat ek uitgevind het hoe om my besigheid te registreer en toe al die regte kanale gevolg het.
“Vandag is ons ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag en weet dat ons nou ’n groter verskil in mense se lewe kan maak in die gemeenskap, want daar is nou ’n bewys dat ons ’n geregistreerde organisasie is,” sê De Klerk met trots.
Buiten dat Nona se Sopkombuis honger magies in Rawsonville voer, gee hulle ook klere aan dié wat dit nodig het.
Hulle help ook dwelmverslaafdes, asook om jongmense te help om verder te gaan studeer.
“Ons gee nie net kos aan minder- bevoorregte mense en kinders nie, maar ook wanneer daar by my skenkings van klere afgelaai word, gee ons dit dan aan diegene wat dit die broodnodigste het. Ek en Florina dien ook in die wykskomitee en verskeie ander forums,” sê De Klerk.





