Zuane Moir van HTS Drostdy, wat ’n prys vir haar houtwerk gewen het. Foto:


WORCESTER – ’n Leerder van HTS Drostdy het een van die afdelings in ’n interprovinsiale vaardigheidskompetisie gewen.

Die Sasol- Kagiso Trust se interprovinsiale Tegniese-vaardigheid-kompetisie het verlede week by die Universiteit van Johannesburg se Doornfontein-kampus plaasgevind. In die kompetisie het 63 leerders, wat in die vorige provinsiale rondes in die Vrystaat, Gauteng, Wes-Kaap, Limpopo en Mpumalanga bo uitgekom het, teen mekaar meegeding in vyf spesialisvelde, naamlik sweiswerk, konstruksie, kragstelsels, loodgieterswerk en houtwerk.

Zuané Moir het houtwerk begin doen omdat sy graag vir haar ma ’n verjaarsdaggeskenk wou maak.

“Ek wou in 2020 graag vir my ma ’n geskenk maak vir haar verjaardag. My pa het die basiese gereedskap gehad, toe maak ek my ma se verjaardaggeskenk. My oupa het ook ’n groot rol daarin gespeel, want hy is ’n baie handige mens as dit kom om enigiets te bou. Hy is definitief my rolmodel in daai aspek van my lewe,” verduidelik sy.

Sy het in September aan die Wes-Kaapse vaardigheidskompetisie deelgeneem en is later deur die WKOD genader. “Ek het op 2 September aan die Wes-Kaapse vaardigheidskompetisie deelgeneem en tweede geëindig. Daarna het die WKOD my genader om die Wes-Kaap by die interprovinsiale kompetisie te verteenwoordig.”

Die deelnemers moes verskeie produkte tydens daardie tweedaagse kompetisie maak.

“Ons het die eerste dag selfoonstaan-houers gemaak en die tweede dag het ons ’n vrugtebak gemaak, en albei take het hul eie spesifikasies en beperkings gehad.”

Haar eindprodukte het verseker dat sy as wenner van haar afdeling gekroon is.

“Ek was stomgeslaan toe ek as die wenner aangekondig is. Ek het dit glad nie verwag nie. Ek het nie eens gedink dat daar ’n moontlikheid was vir my om te wen nie. Ek was baie emosioneel en met blydskap oorweldig.

“Ek is baie dankbaar dat ek die geleentheid gekry het om aan hierdie besonderse, goed georganiseerde kompetisie deel te neem – en vir die amazing WKOD-lede wat saam met my Johannesburg toe was.”

Hierdie vaardigheid gaan nie net iets wees wat Zuané op skool beoefen het nie.

“Ek wil graag ná skool BSc in bosbou en houtwerkkunde gaan studeer. Ek sal baie graag ’n loopbaan uit houtwerk wil maak. Houtwerk is een van die grootste passies in die lewe.”

Behalwe dat sy aanklank vind by houtwerk, hou sy ook baie van sport.

“Ek speel hokkie en doen atletiek vir my skool, en ek is nou al vier jaar in die eerste span.

“Hokkie is een van die ander groot passies in my lewe,” voeg sy by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article