Toe Ockie Strydom (38) van Worcester as seuntjie die eerste keer ’n gholfstok opgetel het, het hy waarskynlik nooit gedink hy sou eendag teen van die wêreld se bestes speel nie.
En dit is presies wat gebeur het!
Strydom, ’n voormalige leerder aan die Hoërskool Montana, het al vanjaar in die Amerikaanse PGA en die Britse Ope – twee van die sogenaamde vier Grotes (Majors) – gespeel en is ook genooi om in November vanjaar in die Nedbank-uitdaagtoernooi, algemeen bekend as Afrika se Grote, te speel.
Daarmee word hy ook die eerste Worcesteriet nog wat dit vermag.
As amatuerspeler het Strydom die land se bane behoorlik aan die brand gespeel en hy spog met 19 junior en 27 toernooie op sy kerfstok.
Hy het in 2009 ’n beroepspeler geword en sy deurbraak op Gholf Suid-Afrika se Sonskyntoer in 2011 gemaak nadat hy nie minder nie as 14 keer met die tweede plek tevrede moes wees.
Sedertdien was hy in ’n verdere vyf toernooie die naaswenner en het tussenin 11 keer die Uitdaagtoer vir opkomende beroepspelers gewen.
Alles het egter in 2022 verander toe Strydom in die Alfred Dunhill-toernooi op die Leopard Creek-baan langs die Krugerwildtuin met die eerste plek weggestap en sodoende vir die PGA-kampioenskap in die VSA asook ’n tweejaar-vrystelling op die DP World Tour gekwalifiseer het.
Strydom het in die derde ronde by Leopard Creek boonop ’n baanrekordtelling van 36 – nege houe onder die baansyfer – aangeteken.
Dit het hom die eerste plek op die Sonskyntoer-merietelys van 2022-’23 besorg, asook ’n uitnodiging om in vanjaar se Asiese Ope en die Nedbanktoernooi te speel.
Net om te wys die Leopard Creek-oorwinning was geen gelukskoot nie, het hy vroeër vanjaar in Singapoer met ’n oorwinning met een enkele hou teen die Fin Salm Valmaki weggestap. In die laaste ronde was Strydom vier houe agter die voorloper toe hy afslaan, maar ’n baanrekord van 63 – nege houe duskant die baansyfer – het hom sy eerste oorwinning op vreemde bodem besorg met ’n toernooitelling van 269 onder die baansyfer.
Die volgende klompie weke beteken ’n besige skedule vir Strydom, met verskeie toernooie in die Tsjeggiese Republiek (D+D Real Czech-meesters, tans in Praag aan die gang), Switserland (Omega Europese-meesters, Crabs-sur-Sierre-klub), Ierland (Horizon- Ierse Ope in Durban by die K-Klub) en Engeland (BMW-PGA-kampioenskap op die Wentworthbaan in Surrey).
Duisende Suid-Afrikaanse ondersteuners gaan sonder twyfel sy vordering volg. En om te dink dit het alles begin met ’n seuntjie wat op ’n dag vir Pa Oekie gesê het hy wil graag leer gholf speel!
. Piet Smit is ’n voormalige redakteur van die Standard.





