Die toneel waar die Nyala-polisievoertuig (links op die foto) verlede week in Wolseley omgeslaan het. Foto: Facebook

Credit: SYSTEM

’n Onlangse voorval het inwoners van Wolseley omtrent aan die praat gehad nadat ’n Nyala-polisievoertuig verlede week in die dorp se hoofstraat omgekeer het.

Die RG-12 (met die bynaam “Nyala”) is ’n veeldoelige gepantserde voertuig met meer as 700 wat wêreldwyd in meer as agt lande in diens is.

Dit is oorspronklik ontwerp as ’n polisievoertuig om openbare orde in stedelike en landelike gebiede met gespesialiseerde wapens te help handhaaf en goeie beskerming aan die insittendes te bied.

Die bestuurder van die voertuig het Vrydag (26 Mei) omstreeks 14:00 beheer verloor en die Nyala het voor die Mega Value-winkel op die hoek van Voortrekker- en Eeufeesstraat omgeval.

“Dit het gelyk of die voertuig met ’n hengse spoed in die pad afgekom en toe omgeval het. Die pad was baie glad, maar dit het gelyk of hy gejaag het,” sê Justin Valk, ’n inwoner, wat op daardie tydstip by die kliniek oorkant die pad vir sy rygeleentheid gestaan en wag het.

Valk sê die omval-voorval het asof in stadige aksie plaasgevind.

“Die mense in die straat het almal soos een geskrik. Toe almal weer sien, het die voertuig op sy sy gelê,” vertel Valk.

Mense het ook bespiegel dat die voertuig dae lank so bly lê het, maar die polisie sê dit is onwaar.

“Ek kan die voorval bevestig,” het luitenant-kolonel Malcolm Pojie van die provinsiale polisie gesê.

“Die bestuurder het beheer verloor. Die Nyala het op die nat pad gegly en die randsteen getref, waarna dit omgeslaan en op die sy beland het. Niemand anders was in die voertuig nie en die bestuurder was gelukkig om ongedeerd daarvan af te kom. Geen ander voertuie was betrokke nie en niemand anders is beseer of getref nie.

“Die voertuig is dieselfde middag weggesleep – enige ander gerugte is onwaar.”

Hy sê verder die voertuig is deel van die Paarl-polisiediens.

“Die lid was deel van ’n groep van Paarl se Openbare Orde-polisie (POP) wat na die gebied gestuur is om hoëdigtheidspatrollies en misdaadvoorkomingspligte in die gebied uit te voer.

“Dit is in pas met die provinsie se strategiese doelwit – om misdaad in die streek te verminder en ook die gemeenskap teen misdadige elemente te beskerm.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article