Die eerste bal in ’n wonderlike nuwe tradisie van ’n krieketwedstryd tussen twee buurskole – HTS Drostdy en Worcester Gimnasium – is die afgelope naweek geboul.
Die idee daaragter spruit uit twee legendariese oudbetrokkenes wat diep spore in dié skole se krieket getrap het.
Dawie de Lange was vir jare verbonde aan HTS Drostdy totdat hy in 2017 as adjunkhoof afgetree het. De Lange was veral bekend vir sy bydrae in die reëlings van groot kriekettoernooie, waaronder die PG Bison-week en SA Platteland-week.
Aan die ander kant was De Lange se seun, Con de Lange, ’n leerder aan Worcester Gimnasium. Con, wat die skool se eerstespankaptein was, het later die Cape Cobras en Knights in plaaslike krieket en ook later Skotland (2015 tot 2017) in internasionale krieket verteenwoordig. Con is ongelukkig in 2019 skielik aan kanker oorlede.
Die idee van die De Lange-trofee, waarom die twee skole in die wedstryd meeding – is om die twee De Langes se bydrae en nagedagtenis te eer. Geen skool se naam word aan die trofee gekoppel nie. Indien Worcester Gimnasium die wedstryd wen, word die naam “Con” op die trofee aangebring, en indien HTS Drostdy wen, word die naam “Dawie” aangebring.
In die o.19A-wedstryd het Drostdy die loot gewen en Gimnasium ingestuur om eerste te kolf. Siphe Malope (43*) se bydrae het Gimnasium tot altesaam 150 lopies gelei. Aan Drostdy se kant het Ruvan Barnard en die kaptein, Gerhard Burger, elk twee paaltjies geneem.
In antwoord hierop het Gimnasium paaltjies op ’n gereelde grondslag laat kantel, maar ’n vennootskap tussen Jurie du Toit (33*) en Cobus de Villiers (20*) om die agtste paaltjie het beteken dat Drostdy die wenlopies in die 40ste beurt kon aanteken.
Dus gaan die naam “Dawie” die eerste keer op die De Lange-trofee aangebring word.
In die o.15A-wedstryd was HTS Drostdy te sterk vir Worcester Gimnasium en het hulle die wedstryd met 97 lopies gewen. Christiaan Strydom was Drostdy se beste kolwer met 89 lopies.
Wat die dag nog meer spesiaal gemaak het, was dat Dawie de Lange die dag saam met die spanne kon meemaak en daar was om die trofee die heel eerste keer aan die wenkaptein te oorhandig.


