Stephné Botha is die afgelope naweek as die Worcester Rotariërs se nuwe president ingehuldig. Sy is sedert 2010 betrokke by Innovation for the Blind en is sedert 2019 hul uitvoerende hoof.
Standard het ’n paar vrae aan haar gestel.
Hoe lank is jy nou al deel van die Rotariërs en wat het jou destyds laat besluit om by hulle aan te sluit?
Ek is nog slegs sedert Maart 2020 ’n lid. Ek het egter al ’n langer verbintenis met die Rotariërs. Van lank voor ek by Innovation begin werk het, het die Rotariërs reeds jaarliks vir ons inwoners kom braai en so ’n verskil gemaak in die lewe van mense met visuele gestremdhede. Ek het aangesluit by die Rotariërs omdat die organisasie vir my ’n geleentheid bied om op betekenisvolle wyse in die gemeenskap betrokke te raak en so ’n verskil te maak.
Was dit jou doel om eendag die president te wees of was dit iets onverwags?
Ek het nie aangesluit met ’n mikpunt om die president te word nie. Dit is egter vir my ’n baie groot eer. Ek is natuurlik terdeë bewus van die groot verantwoordelikheid wat hiermee gepaard gaan.
Ek kyk met dankbaarheid terug oor my Rotariër-reis tot op hierdie punt en sien met versigtige optimisme uit na dit wat voorlê.
Hoe het jy gevoel toe jy uitvind dat jy Worcester Rotariërs se nuwe president gaan wees?
Dit het natuurlik met opgewondenheid gepaard gegaan.
Maar dit sou ook onverantwoordelik wees om nie ook ’n bietjie skrikkerig te wees vir die uitdaging nie.
Ek voel egter geëerd dat my mede-Rotariërs my gekies het vir hierdie posisie.Is daar enige nuwe projekte of inisiatiewe wat jy in hierdie jaar van stapel wil stuur?
Ek is bevoorreg om ’n toegewyde span te hê wat saam beplan aan ’n nuwe geldinsamelingsprojek – ’n baie spesiale Kersfeesopvoering – in samewerking met een van die skole in Worcester.
Hierdie spesiale geleentheid sal ons die geleentheid bied om geld in te samel wat ons weer tot voordeel van die gemeenskap kan aanwend.
Het jy dalk ’n boodskap vir die gemeenskap namens die Rotariërs?
Vanjaar se tema is om hoop te gee en dit is vir my so ’n belangrike strewe – as dit goed gaan met ons gemeenskap, het dit ’n positiewe impak op ons almal se lewe.
Verduidelik kortliks oor jou rol by Innovation for the Blind en hoe lank jy nou al betrokke is.
Ek is sedert 2010 in diens van Innovation for the Blind. Ek het my ongelooflike Innovation-avontuur begin as die arbeidsterapeut. Dit was ’n ongelooflike voorreg om op grondvlak projekte saam met ons inwoners te kon dryf en later het ek die bestuur van die tehuise oorgeneem.
In 2017 het ek die operasionele bestuurder geword en toe, in 2019, die uitvoerende hoof.
Vir my is dit die grootste voorreg wanneer ek kan deel daarin om die ongelooflike potensiaal van mense met visuele gestremdhede in ons sorg te ontsluit.





