Afrikaanse digters van alle agtergronde en dialekte kry nou die kans om hul stem te laat hoor.
’n Poësieprys, die Diana Ferrus-prys, wat na dié Worcesterse skrywer en aktivis vernoem is, bied skrywers die geleentheid om in hul eie variëteit van Afrikaans te dig – of dit nou Nama-Afrikaans, Kaaps, Khoe-Afrikaans of enige ander variëteit is.
Die prys is ’n baanbreker-inisiatief waarmee gepoog word om die ryk diversiteit van die Afrikaanse taal te bevorder en dialekte wat dikwels misgekyk word, op die voorgrond te plaas.
“Dit is regtig ’n groot eer, en die feit dat deelnemers ’n platform sal hê om hul werk voor te lê met hoop, kan net die veld van Afrikaanse skryfwerk vergroot en nuwe stemme na vore bring,” sê Ferrus.
Volgens Zalman Davis, die stigter van die prys, is dit ’n geleentheid vir Afrikaanse digters om hul stem te laat hoor in die taal waarmee hulle grootgeword het.
“Ons wil hê digters moet skryf in hul ma se Afrikaans – die Afrikaans van hul huis, hul gemeenskap en hul identiteit,” sê Davis.
“Hierdie prys gee erkenning aan die unieke klanke, ritmes en uitdrukkings van verskillende streke – van die klikke van Nama-Afrikaans tot die melodie van Kaaps.”
Deelnemers kan tot drie gedigte inskryf; elk met ’n maksimum van 24 versreëls.
“Dit gaan nie net oor die lengte van die gedig nie, maar oor hoe digters hul Afrikaans gebruik om hul wêreld uit te druk.
“Ons soek na die ware, rou en eerlike weergawe van hul Afrikaans,” sê Davis.
Die beoordelaars sluit bekende figure in die Afrikaanse poësiewêreld in, soos Churchil Naudé, Hakkiesdraad Hartman, Ryan Pedro en Shirmoney Rhode. Die digters werk in verskillende vorme en dialekte van Afrikaans en die beoordelaars is opgewonde oor die geleentheid om nuwe, vars stemme te ontdek.
Die Diana Ferrus-prys skep ’n ruimte waarin digters hul uniekheid kan vier en gesien en waardeer kan word.
Inskrywings het op Ferrus se 71ste verjaardag – 29 Augustus – geopen en sluit op 5 Januarie aanstaande jaar. Die wenners sal op volgende jaar se Adam Small-boekefees in Pniël aangekondig word.
. Besoek www.cognitoforms.com/DianaFerrusprys/DianaFerrusprys2024 vir meer inligting.




