Soos wat ’n mens weet, lok ontwikkelings verdere ontwikkelings, want daar is ’n gesegde wat lui “geld maak geld”.
Dit is juis wat die Breederivier-munisipaliteit wil bevorder.
Goeie nuus vir die vallei is juis dat nuwe ontwikkelings in Worcester soos paddastoele verrys, asook nog ontwikkelings wat in die pyplyn is.
. Winkelsentrum by Parkslot 15, Worcester Hills
’n Winkelsentrum word by Parkslot 15, Worcester Hills, opgerig. Dit is by die singel wat agterom Builders Warehouse en CTM loop om dan weer by Mountain Mill-rylaan aan te sluit. Nadat bouwerk vir ’n tyd lank stilgestaan het, is groot vordering met hierdie gebou onlangs gemaak. Hier sal ’n winkelsentrum wees, maar in hierdie stadium is dit nog onseker presies watter winkels daar sal wees.
. Die voorgenome Altona-aftreeoord by Altona-boulevard en Golden Valley-rylaan-aansluiting
Inwoners sal by die aansluiting van Altona Boulevard en Silver Tree-straat (m.a.w. die eerste verkeersirkel by Altona) sien dat die stof al staan op die perseel waar die nuwe Altona-aftreeoord beplan word. Die ontwikkelaar het – terwyl die onderverdelingsaansoek vir die nuwe aftreeoord nog deur die stadsbeplanningsafdeling verwerk word – toestemming verkry om ’n muur en ingangspoort met ’n veiligheidswaghokkie by die ingang van Golden Valley-rylaan na hierdie ontwikkeling te bou – dit is die stof wat inwoners op hierdie terrein kan sien dwarrel.
. Die voorgenome Altona-winkelsentrum by die aansluiting van Altona Boulevard en Silver Tree-straat
’n Groot advertensiebord waarop staan dat ’n nuwe Altona-winkelsentrum opgerig sal word – Coming Soon, lui dié bord – staan by die aansluiting van Altona-boulevard en Silver Tree-straat (m.a.w. die eerste verkeersirkel by Altona). Die ontwikkelaar het egter nog nie ’n ontwikkelingsaansoek hiervoor by die munisipaliteit ingedien nie. Alvorens dit nie gebeur en goedgekeur word nie, wag almal nog vir hierdie ontwikkeling om op dreef te kom. Na wat verneem word, is een van die oponthoude met hierdie ontwikkeling die finalisering oor wie die ankerhuurders gaan wees.
Worcester is ’n dorp wat nie vinnig op een keer uitbrei nie, maar ’n dorp wat voortdurend stukkie vir stukkie uitbrei. Elke nuwe ontwikkeling is ’n blokkie wat in die legkaart van Breedevallei as ’n vallei van uitnemendheid inpas.




