Worcesteriete sal opmerk dat talle ontwikkelings in die dorp aan die gang is.
Hulle is baie opgewonde hieroor, sê dr. Julian Kritzinger, die BVM se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling.
Die wyksraadslid vir Wyk 6, Esmé van der Westhuizen, verduidelik hierdie massiewe inspuiting vir die Breedevallei se ekonomie kon nie op ’n beter tydstip gekom het nie.
“Dit is presies die katalisator wat die plaaslike ekonomie nou nodig het om investering en werkskepping aan te help. Breedevalleiers kan na etlike nuwe werkskeppingsgeleenthede uitsien, want die nuwe ondernemings sal ’n massiewe impak op die plaaslike handel en nywerheid hê,” sê sy.
Nando’s en Burger King
Die bouwerk van Nando’s en Burger King by Mountain Millrylaan 18 is reeds ver gevorder. Dié twee ondernemings sal ’n oppervlakte van onderskeidelik 297 m² en 295 m² beslaan en sal reg in die oog van verbygaande verkeer op die N1 wees. Die eienaars hoop hul restaurante sal hul deure op die laatste teen 1 November – maar hopelik ’n paar weke vroeër – kan open.
uitbreiding by checkers
Mense wat gereeld by die Mall kom, sal sien bouwerk by Checkers het reeds begin.
Checkers gaan uitbrei en ruimte vir Worcester se eerste Starbucks sal gemaak word.
Hierdie uitbreidings beslaan ’n oppervlakte van 622 m² en hou groot belofte in om Worcester as ’n voorste inkopiebestemming in die streek te vestig.
Engen-vulstasie
Ná jare se gewag is die grond uiteindelik vir die bou van die nuwe Rabielaan Engen-vulstasie gebreek.
Die bouwerk aan die vulstasie het reeds by die Rabielaan-verkeersirkel by die Mountain Millrylaan- en Mall Close-aansluiting begin. Motoriste sal van die Mountain Millrylaan-doodloopstraatkant af by die vulstasie kan inry.
Die uitgang sal ’n glipweg wees wat aan die Rabielaan-kant gebou gaan word, van waar motoriste dan sommer weer maklik by die N1 sal kan aansluit.
Hierdie is ’n geskiedkundige verwikkeling, want dit is die eerste keer dat die Worcester Hills-gebied wes van Rabielaan uitbrei.
Die Engen-vulstasie se oppervlakte sal 350 m² beslaan en sal ook ’n Engen One Stop Shop insluit, wat ’n groot pluspunt is aangesien westelike Worcester al baie jare ’n behoefte aan ’n geriefswinkel het wat 24 uur oop is.
Tiger Wheel and Tyre
Nog ’n opwindende uitbreiding wat voorlê, is die verskuiwing van Tiger Wheel and Tyre van die Windpomp-sentrum in Mountain Millrylaan na die parkeerterrein van Mountain Mill Mall.
Die winkel is heel aan die westekant van die Mall se parkeerterrein net onderkant Mountain Millrylaan. Wat interessant is van die boumetode vir hierdie nuwe winkel is dat die winkel vooraf in ’n fabriek by wyse van gietwerk gebou word en die gegote, voorafvervaardigde stukke dan op die terrein aanmekaar gesit sal word.
Die ontwikkelaars hoop om die winkel al teen 1 Oktober te open.
WaardeMark-sentrum
Groot veranderings is ook by die terrein in Somersetstraat, waar Buco geleë is, aan die gang.
Uitgebreide verandering en opknapping van die terrein en ’n splinternuwe kleiner, maar gesinsvriendelike sentrum, is deel van die projek.
Ontwikkelaars het reeds uitgebreide kostes aangegaan, met Buco wat sy uitleg gaan verander en EconoFoods wat geopen het. Gerieflike en veilige parkering bestaan reeds, met nog winkels in die vooruitsig. Een van die oogmerke van die ontwikkelaar is ’n sentrum wat uiteindelik heeltemal onafhanklik van die elektrisiteitsnetwerk sal wees.
Gesamentlike investering
Indien ’n mens net na die Engen, Nando’s en Burger King, Checkers en WaardeMark se uitbreidings kyk, beteken dit in die omgewing van R50 miljoen se investering vind nou in die Vallei plaas.
Dit is siviele dienste nog uitgesluit.
“Daar sal definitief nie sulke massiewe beleggings in die plaaslike ekonomie gedoen word indien daar nie eerstens vertroue in die Breedevallei se mense is wat dit sal ondersteun nie, en tweedens in Breedevallei se infrastruktuur, wat ook ontwikkelings van hierdie aard moontlik maak,” sê Kritzinger.


