’n Organisasie in De Doorns wil die nodige hulp en bystand aan nuwe moeders bied en hulle veral inlig oor die belangrikheid van ’n baba se eerste 1 000 dae.
Clinique Sister’s is geskoei op die gewilde Flourish, ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat daarop gemik is om nuwe ma’s touwys te maak oor swangerskap, voor- en nageboorte, asook kennis oor verskeie onderwerpe, en Hazel Herwel het besluit om ’n soortgelyke organisasie in De Doorns te stig.
Herwel, wat ook vir ’n wyle by die Flourish-program in Worcester betrokke was, sê sy is baie opgewonde om nou ook ’n verskil in ander dele van die Breedevallei te kan maak.
“Ek het Clinique Sister’s gestig om vroue in veral die De Doorns-gemeenskap te help. Ons grootste mikpunt is om bewusmaking te skep oor verdwerging (van geboorte) en die impak wat goeie opleiding op ’n kind se ontwikkeling kan hê,” sê Herwel.
Sy sê die eerste 1 000 dae ná ’n baba se geboorte is die belangrikste tydperk vir kognitiewe ontwikkeling.
“Hierdie tydperk fokus op stimulasie en ontwikkeling. Elke besluit wat ’n ma neem, het ’n invloed op haar kind. Alles wat in daai eerste fase gebeur en aangeleer word, het ’n impak op daardie kind se toekoms. Ons wil graag help en ons wil ’n verskil maak,” verduidelik Herwel aan Standard.
Clinique Sister’s bestaan tans uit vier vrywilligers wat elk hul deel doen om ander te help.
Die afgelope twee maande sedert hul stigting het hulle al meer as 30 vroue wat hulle bystaan.
“Dit sluit alles in – van sielkundige hulp en dieetkundiges tot spraakterapeute en fisioterapeute.
“Ons skep dan ’n netwerk waarna ons as ons ‘susterskap’ verwys. Dit is ’n groep wat mekaar leiding gee en ondersteun. Dit is iets wat verskriklik nodig is in ons gemeenskappe.”
Herwel verduidelik ook dat so ’n netwerk sterk vroue dan ander kan inspireer en dit kan die emosionele tuimeltrein van die verskeie fases van swangerskap in ’n mate verlig.
Die gemeenskap van De Doorns is egter nie waar Herwel en haar vrywilligers wil stilstaan nie.
Sy poog om ook hierdie projek eersdaags in verskeie dele van die Breedevallei uit te rol.
“Ons sal graag die projek ook na Touwsrivier en ander dele van die Breedevallei wil uitbrei. Opvoeding en inligting is die sleutel tot die sukses van so ’n projek.”
Herwel sê enigeen kan by die projek betrokke raak en hul kennis en tyd met ander vroue in die netwerk deel.. Enigiemand wat belangstel kan Hazel Herwel by 078 693 8264 kontak.


