Voor is Aubrecia du Plessis (addisionele lid), Elizna Fransman (hooftrustee), Natasha Johnson (sekretaresse), Lolita Soldaat (voorsitter), Nathalie Arendse (hulpsekretaresse) en Ashley Johnson (media en bemarking). Agter is Bernard Benjamin (addisionele hulp, kassier), Simon April (hulp-kassier), Marchyne van Wyk (addisionele lid) en Kharshay Farland (media en bemarking). Afwesig: Juhaine Swartbooi (kassier), Julbur Johnson (ondervoorsitter) en Bridgette Jeena (addisionele lid).


’n Groep weldoeners van Worcester het onlangs ’n nuwe organisasie gestig met die hoop om kankerlyers in die streek te ondersteun.

Die Breedevallei-kankerorganisasie (BKO) is verlede week op een van die eerste ledevergaderings gestig en hulle is vuur en vlam om geld in te samel vir diegene wat hulp benodig.

“Ons het die behoefte in die gemeenskap raakgesien. Ons sal graag geld vir kankerpasiënte wil insamel en donasies maak aan pasiënte, veral in die Breedevallei. Ons wil ook fokus op projekte wat ons lede en gemeenskap kan toerus met die nodige kennis en vaardighede in verband met kanker.”

Só vertel die voorsitter van hierdie organisasie, Lolita Soldaat, aan Standard.

Sy en haar span wil veral fokus op bewusmaking en die verspreiding van feitlike inligting wat tot voordeel van elkeen in die gemeenskap kan wees.

“Ons spits ons ook daarop toe om verhoudinge in die gemeenskap te bevorder en onsself te beywer met kennis sodat ons ook sodoende ’n trotse beeld na buite uitstraal wat ons sal help met geldinsameling ten opsigte van kanker.”

Die span werk al jare saam aan verskeie ander projekte en wil nou hande vat om kankerlyers in die gebied so goed moontlik te ondersteun.

“Ons almal was deel van Kansa se Relay For Life en so het ons die behoefte in die dorp gesien, en ons as lede het besluit om die organisasie op die been te bring om ons pasiënte in die Breedevallei te help met wat ook al die nood is. Ons wil help met gratis voeding en selfs doeke. Ons wil help om die las te verlig met die verhuur van apparate soos byvoorbeeld ’n hospitaalbed, rolstoel of suurstoftenk,” voeg Soldaat by.

Die organisasie se leuse is: “Een span. Een Droom” en hulle poog om op 16 September vanjaar hul eerste geldinsamelingprojek te hou in die vorm van ’n langarmdans in die Stadsaal. “Ons wil graag hê die kankerpasiënte moet kontak maak met ons sodat ons kan weet wat die behoeftes in die gemeenskap is.”

Soldaat kan by 083 287 0604 gekontak word, die sekretaresse, Natasha Johnson, by 082 712 5435 of via e-pos by breedevalleycancerorg@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article