Gesondheidswerkers is opgewonde oor bouwerk wat binnekort by die Robertson-hospitaal begin – ’n tydelike ongevalle-eenheid word gebou om meer ruimte te skep en dienslewering te vergemaklik.

Langtermyn-opknapping van die huidige ongevalle-eenheid word ook beplan, maar intussen word die tydelike ongevalle-eenheid deur die Wes-Kaapse regering se departement gesondheid en welstand opgerig om die druk op die diens te verlig. Sowat 2 000 mense kom elke maand na die hospitaal se ongevalle-eenheid.

Die tydelike eenheid word net ’n kort entjie van die huidige ongevalle-eenheid opgerig. Besoekers sal dit maklik vind met die hulp van rigtingaanwysers.

Die tydelike eenheid se wagkamer sal aan die res van die eenheid verbind wees. Die wagruimte sal groter wees en die toiletgeriewe sal reg by dit wees.

Personeel sal ook meer ruimte hê om te werk, sowel as ekstra bergingsgeriewe sodat medikasie en ander voorraad byderhand is.

Die gebied waar pasiënte tydelik gehuisves word voordat hulle in die hospitaal opgeneem word of hul toestand bestendig genoeg is om huis toe te gaan, sal ook meer gemaklik wees.

“Ons is entoesiasties oor die nuwe, beter ingerigte ruimte wat gehalte-pasiëntsorg sal onderskraag,” sê dr. Andrew Williams, ’n spesialis by die hospitaal. “Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om ons te help deur die ongevalle-eenheid net vir noodgevalle te besoek. So kan ons seker maak ons gee aandag aan lewensbedreigende gevalle.”

Elke mens vervul ’n belangrike rol in sy eie gesondheid. Jy kan die druk op die ongevalle-eenheid help verlig deur die volgende raad te volg:. Vermy dwelms en beperk jou inname van alkohol.. Volg ’n gesonde leefstyl deur elke dag te oefen en gesond te eet.. Gebruik jou chroniese medikasie soos voorgeskryf.. Maak seker jy kom jou afsprake by die kliniek na sodat jou toestand onder beheer bly.

Wanneer om na ongevalle te gaan

’n Ongevalle-eenheid is gefokus op gesondheidsorg aan mense wat in lewensgevaar verkeer. Voorbeelde hiervan sluit in gevalle soos:. Kinders met diarree en/of opgooi;. Iemand met simptome van ’n beroerte (soos skielike lamheid in ’n been en arm). ’n Ernstige sny- of steekwond;.’n Skietwond;. Beserings weens ’n motorongeluk;. ’n Hartaanval;. Beenbreke;.’n Verlaagde bewussyn;. Sukkel om asem te kry;. Vaginale bloeding tydens swangerskap.

Indien jy nié noodbehandeling benodig nie, besoek jou naaste kliniek tussen 07:30 en 16:00.

Wat om te verwag by ongevalle

Meld aan by ontvangs. ’n Baie bekwame verpleegkundige sal jou toestand evalueer (triage) sodat die personeel kan prioritiseer wie se toetstand lewensbedreigend is.

Pasiënte word volgens ’n kleurkode geprioritiseer (triage):. Pasiënte met lewensgevaarlike beserings of toestande (rooi) sal dadelik gehelp word.. Pasiënte met beserings of siektes wat ernstig is, maar nie lewensgevaarlik nie (oranje), sal dringend gehelp word.. Pasiënte met beserings of siektes wat minder ernstig en nie lewensgevaarlik is nie (geel), sal so gou as wat ’n gesondheidswerker beskikbaar is, gehelp word.. Pasiënte met geringe beserings of siektes wat nie dringend is nie (groen), sal gehelp word wanneer alle noodgevalle hanteer is.

Hierdie pasiënte kan soms lank in die ongevalle-eenheid wag.

As jy onseker is oor iets of vrae het, praat asseblief met ’n gesondheidswerker.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article