Breedevallei APD, met die ondersteuning van die Do More Foundation en CHEP, het in 2020 met ’n splinternuwe houtwerkprojek begin.

Hierdie projek bied aan 20 gestremde jeugdiges tussen 18 en 35 jaar die geleentheid tot selfwaarde- en vaardigheidsontwikkeling, asook die geleentheid om hul inkomste aan te vul deur middel van winsdeling.

Die hooffokus van die houtwerkprojek is die vervaardiging van hout-artikels – spesifiek houtspeelgoed – wat veral ten bate van vroeë kinderontwikkeling aangewend kan word.

Die jeugdiges met gestremdhede het verskeie insette asook opleiding van ’n multidissiplinêre span ontvang.

Elke jeugdige se individuele vaardighede en vlak van funksionering is vasgestel en daarvolgens is take aan elkeen toegeken. Die jeugdiges se vordering word deurlopend gemeet aan die verskillende take wat aan hulle toegeken is met die aanvang van die projek in 2020, en die take waarmee hulle tans (2022) besig is.

Sodoende word hul individuele vordering en ontwikkeling, asook behoeftes bepaal. Mense met gestremdhede – veral in die geval van lae kognitiewe funksionering – het nodig om te leer deur herhaling.

Met die opleiding, geduld en leiding van toegewyde fasiliteerders vind positiewe groei en ontwikkeling plaas van al die jeugdiges wat deel vorm van die projek.

Maar daar word nie net gefokus op die houtwerk en vaardigheidsopleiding nie. Die program maak ook voorsiening vir die kognitiewe ontwikkeling, lewensvaardighede en psigo-sosiale ontwikkeling van die jeugdiges met gestremdhede. Die dienste en intervensie van die maatskaplike werker is van kardinale belang en die jeugdiges word geleer en gemotiveer dat hulle méér is as hul gestremdhede, méér is as hul omstandighede en word toegerus met die nodige vaardighede om te droom en te lewe met ’n doel en ’n passie. ’n Selfstandige en onafhanklike leefstyl word te alle tye aangemoedig.

Met die toewyding en ondersteuning van ons onderskeie vennote (Do More Foundation, CHEP, #Morethan en die departement van maatskaplike ontwikkeling), was die projek in staat om binne ’n jaar selfonderhoudend te word!

Dit was vir ons ’n heuglike dag toe ons die jeugdiges kon meedeel dat ons graag terugploeg in hul deursettingsvermoë en harde werk met hul eie winsdeling!

Aangesien ons met al ons inkomste-genererende projekte belangrike besigheidsbeginsels aan die dag lê, kan hierdie projek slegs selfonderhoudend bly indien die artikels wat vervaardig word gereeld verkoop word. Bemarking van die hout-artikels vind op verskeie platforms plaas, so hou gerus die media dop.

Indien u belangstel in meer inligting ten opsigte van die hout-artikels of om ’n bestelling te plaas, skakel gerus met Anelda Rabie by 023 347 2002 of e-pos haar by socialwork3@bvapd.org.za.

Ons verwelkom nuwe voorstelle en kreatiewe uitdagings en hoop dat ons in die toekoms nuwe produkte tot ons speelgoedreeks kan toevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article