Kapt. Johannes Prins is daartoe verbind om reg en orde te handhaaf.Foto: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

MONTAGU. – Die afdeling vir sigbare polisiëring by die Montagu- polisiekantoor het op 1 Oktober ’n nuwe bevelvoerder gekry.

Kapt. Johannes (Hansie) Prins, ’n boorling van Ashton, wat die afgelope drie jaar by die Swellendam- polisiekantoor gewerk het, is op 1 September bevorder en as die hoof van sigbare polisiëring in Montagu aangestel.

Prins, wat bykans 33 jaar diens agter die blad het, het op 1 Desember 1991 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Ashton aangesluit.

Ná sy basiese opleiding by die polisie se kollege in Pretoria is hy weer na Ashton uitgeplaas, waar hy as ’n gewone skoflid met die rang van konstabel begin diens verrig het.

Prins is een van die min polisiebeamptes wat eers ’n onder-sersant geword het voordat hy later die volwaardige sersantrang beklee het.

Hy is op 1 Julie 2000 tot inspekteur bevorder.

Dié rang is ’n paar jaar later met die polisie se rangstruktuurveran­dering, op 1 April 2010, met die rang van adjudant-offisier vervang.

Prins het laasgenoemde rang 23 jaar lank beklee voordat hy met ingang 1 September tot kaptein bevorder is.

Gedurende sy loopbaan het Prins verskeie kursusse en werksessies, onder meer dié vir gemeenskapsdiens­sentrum­bevelvoerder, kliëntediens, gebruik van vuurwapens, gesinsgeweld, die junior bestuur-leerprogram, Kinderwet en nasionale instruksie en die Kieswet, om slegs ’n paar te noem, suksesvol deurloop.

Verder is hy ook vir sy lang en getroue diens vereer.

Hy het medaljes vir tien, 20 en 30 jaar getroue diens ontvang.

Benewens genoemde medaljes is hy ook met die SAPD se 100-jarige bestaan en die 2010-Sokker-wêreldbeker-ondersteuningsmedaljes vereer.

Oor sy nuwe pos met sy uitdagings het Prins hom só uitgelaat: “Ek is ’n voorstander van gemeenskaps­polisiëring. Daarmee bedoel ek die gemeenskap en die polisie moet as ’n span saamwerk om misdaad te bekamp.”

Prins beskou die feit dat ’n groot aantal polisiebeamptes boorlinge van Montagu is en in dié dorp grootgeword het, as positief om misdaad hok te slaan.

“Baie van my kollegas kom uit dié plaaslike gemeenskap. Wanneer hulle klaar gewerk het, gaan hulle weer terug in die gemeenskap.

“Hul deurlopende teenwoordigheid in die gemeenskap help om ’n veilige omgewing vir jou polisiebeamptes sowel as die gemeenskap in die geheel te bewerkstellig.”

Professionele polisiëring is ook van uiterste belang, meen Prins.

“Daar moet dissipline en respek in die werksplek wees.

“Dis met hierdie waardes dat ek in die polisie gegroei het.”

Die veiligheid van die gemeenskap, en ook om die polisie en die gemeenskap nader aan mekaar te bring, is hoog op sy prioriteitslys, sê Prins.

“ ’n Gesonde verhouding tussen die polisie en gemeenskap is van die uiterste belang,” sê hy, “want jy kan nie misdaad sonder die hulp van die gemeenskap doeltreffend bekamp nie.

“Die gemeenskap is ’n onontbeerlike rolspeler in die voorkoming van misdaad.

“Die misdaad word immers in die gemeenskap gepleeg en dit skep ’n onveilige omgewing. Dit is ons as polisie se plig om reg en orde te handhaaf en die veiligheid van ons gemeenskap te bewerkstellig.

“So, dis my visie,” aldus die nuwe bevelvoerder van sigbare polisiëring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article