’n Nuwe distrikshof is Maandag (9 Oktober) in Robertson geopen om met die agterstand in hofsake te help.
Die hof se hoofdoel is om te help met die agterstand van sake wat aangehoor moet word en wat al telkemale om verskeie redes uitgestel moes word.
“Die besluit om hierdie hof te open, is geneem weens die agterstand met strafsake en die werklading wat tans in die gesig gestaar word,” het Riaan Myburg, gebiedsbestuurder van die departement van justisie, aan Standard gesê.
Dit is egter onduidelik hoe groot die agterstand met sake is wat tans deur die hof aangehoor moet word. Myburg kon ongelukkig nie die syfers deel nie.
Voorts sê hy die hof sal strafsake van huisbraak, diefstal en aanranding aanhoor.
“Daar sal nie sake soos moord en verkragtings in hierdie spesifieke hof aangehoor word nie,” het hy verduidelik.
Een landdros sal vir die volgende ses maande in die hof voorsit.
“Nadat die ses maande om is sal die stand van sake heroorweeg word of daar nog landdroste of ’n nuwe landdros vir nog ’n tydperk aangestel moet word.”
Verskeie rolspelers het die opening van die hof bygewoon. Die nuwe distrikshof is in dieselfde gebou as die Robertson-landdroshof by Kerkstraat 50 geopen.



