Hierdie week se uitgawe van Worcester Standard is die laaste wat in sy huidige formaat verskyn vanweë die beplande samesmelting met Breederivier Gazette, wat van Donderdag 7 September in werking tree.

Die nuwe gratis publikasie, getiteld Worcester Standard & Breederivier Gazette, bied die streek se twee gunstelingkoerante saam in een groter en beter handelsmerk, met 30 000 koerante wat elke Donderdag oor die gebied versprei word.

Koerante sal van deur tot deur afgelewer word in voorstede in Worcester, Rawsonville, De Doorns, Robertson en Montagu, asook by grootmaatverspreidingspunte in nabygeleë buurdorpe, waaronder Touwsrivier, Tulbagh, Laingsburg, Wolseley, McGregor, Ashton en Bonnievale.

Dié twee koerante het met ’n gesamentlike bestaan van meer as 150 jaar ’n trotse geskiedenis om hiper-plaaslike nuus te lewer en adverteerders van ’n gedrukte publikasie te voorsien.

Die samesmelting van die koerante sal nie die lewering van hiper-plaaslike nuus aan die twee publikasies se lojale lesers beïnvloed nie, het Stefan Kolver, die uitgewer van Breederivier Media, verduidelik.

“Die redaksiespan is opgewonde en gereed om voort te gaan om dieselfde hoëgehalte-nuus uit die Breedevallei en Langeberg in die gedrukte produksie aan lesers te gee,” het hy gesê.

“Die joernaliste sien ook daarna uit om meer onmiddellike nuus deur ons aanlyn platforms te lewer – veral op Netwerk24.

“Aan die advertensiefront gee die nuwe Worcester Standard & Breederivier Gazette adverteerders ’n groter verspreidingsgebied en beter markpenetrasie, terwyl dit ook ’n allesomvattende digitale aanbod in die nabye toekoms bied.”

Wees dus aanstaande Donderdag op die uitkyk vir die nuwe koerant op die bekendstellingsdag (7 September) en besoek ons Facebook-blad @Standard Newspaper vir nog inligting.

Die span van die Worcester Standard & Breederivier Gazette sal op dié dag in die strate van Worcester te sien wees om die nuwe koerant bekend te stel, saam met ’n paar waardevolle pryse wat in gelukstrekkings gewen kan word.

Die plaaslike radiostasie WorcesterFM sal ’n spesiale uitsending deur die loop van die oggend oor die koerant en sy mense hou.

Die span sien daarna uit om die breër gemeenskap tot diens te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article