Worcesteriete sal teen einde September by twee nuwe kitskosrestaurante kan smul.
Die restaurante, Burger King en Nandos, word naby die Mountain Mill-inkopiesentrum gebou. Die projek het reeds op 14 Maart begin.
“Mountain Mill is al vir etlike jare in gesprek met albei huurders. Ons het gedink dat die posisie baie geskik is vir drive-throughs, veral die sigbaarheid vanaf die N1 en die nabyheid aan Mountain Mill-inkopiesentrum,” verduidelik Sam Orton, Mountain Mill se algemene bestuurder.
Gevra oor of hierdie projek enige werkskepping vir plaaslike inwoners het, het Orton die volgende gesê: “Ons poog altyd eerste om plaaslik te ondersteun, indien moontlik. Ons kan nie namens hulle antwoord in verband met werksverskaffing nie, en dit sal natuurlik ook afhang van hulle operasionele vereistes,” verduidelik hy.
Hy noem ook dat albei restaurante later vanjaar hul deure sal oopmaak. “Die beplande openingsdatums vir die winkels sal einde September wees.”
Sosialemediagebruikers was baie opgewonde oor hierdie aankondiging en sien almal daarna uit om lekker aan dié twee kitskoseetplekke se kos te smul.





