Young Hamiltons RVK se talle aanwinste voel reeds tuis by die “People’s Team”.

Heelwat van die nuwe spelers wat hul opwagting Saterdag teen Worcester Perseverance by die Esselenpark-stadion gemaak het, sê hulle het elke oomblik geniet.

Een van hulle, Sam Uesack van Engeland, sê hy is gewis hier om te bly. Hy het Saterdag sy talente tentoongestel en met ’n stukkie briljantheid oor die doellyn gesweef – tot groot vreugde van die skare.

Nog “ou nuwelinge” wat in die Hammies-trui gesien is, was Mansur Karriem en Nazeem De Sousa, wat op heelagter uitgeblink het.

Hammies is nog ’n bietjie geroes, maar dit is niks wat nie gou reggestel kan word nie.

Hoewel die wedstryd meestal ’n getjommel was, het Hammies steeds gemaklik met 40-12 teenoor Persies geseëvier.

Lekker hardlooprugby was aan die orde van die dag, maar vroeg in die wedstryd was daar talle hanteerfoute wat ’n paar moontlike drieë laat skipbreuk ly het. Voorlangs het beide spanne mekaar lekker opgekeil.

Hammies se C-span het in ’n klipharde wedstryd 10-5 gewen, terwyl die B-span met 42-7 geseëvier het.

Hammies reis Saterdag na Bella Vista in Ceres. Busvervoer is beskikbaar teen R70 vir ondersteuners en R40 vir spelers. Busse vertrek om 12:00 vanaf Esselen Tavern.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article