’n Inwoner kyk na die skade wat deur die brand aan ’n motor veroorsaak is. Foto: Luciano du Toit


Die Settley-gesin van Leipoldtlaan is oneindig dankbaar vir die gemeenskap se hulp nadat een van hul motors Saterdagoggend aan die brand geslaan het.

Toe Sarinca Settley Saterdagoggend om 06:30 opstaan om gereed te maak vir ’n begrafnis, het sy skielik gehoor hoe ’n hele paar stemme buite haar huis gil.

“Ek kon hoor dit was ’n hele paar stemme wat buite ons huis skree.

“Ek het eers gedink hulle roep my seun, Grant, en ek gaan maak toe die deur oop en hoor toe hulle skree ‘brand’.”

Toe sy besef wat die mense skree, het sy onmiddellik die res van die mense in huis gaan wakker maak en hulle is na die motors toe.

“Toe ons by die motors kom, was een van hulle aan die brand. Die vlamme het al hoog gestaan. En as gevolg van die brand het die elektriese bedrading van die motorhuisdeur al gesmelt en wou dit nie met die afstandbeheerder oopmaak nie.”

Die motors was onder ’n motorafdak met ’n motorhuisdeur geparkeer.

Haar seun is toe by ’n sydeur in en moes deur die vlamme gaan om die deur van binne oop te maak.

“Ons het onmiddellik die motor agter die brandende een uitgetrek, want die motor se ligte het al begin smelt en ons was net bang die vlamme spring oor en dat die motor se petroltenk kon ontplof. Die motor wat gebrand het, het aan die passasierskant gebrand.

“Die motor se lugsakke het ook al teen daai tyd ontplof en ons het niks in die huis gehoor nie.”

Die waterpyp is ook deur die vlamme geaffekteer en die familie en ander helpers moes water in houers uit die gesin se swembad skep om die vlamme te blus.

Sarinca verduidelik ook dat hulle nog nie weet hoe die brand in die motor ontstaan het nie.

“Die enjin het glad nie gebrand nie. Die vlamme het gestrek van die modderskerm aan die passasierskant tot amper by die motor se bagasiebak.”

Sy noem ook dat die motor Vrydagmiddag laas gery is en dat niemand enige foute by die voertuig opgemerk het nie.

Sarinca spreek ook haar dank uit aan die bestuurder van Klink-taxi-vervoer wat gestop het en die werkers van APL Cartons wat hy vervoer het wat die brand onder hul aandag gebring het.

“Ek sê ook dankie aan ons buurman, Mark Rensburg, wat my man, Paul, uit die huis gehelp het net ingeval die motor sou ontplof, want dit het reg langs die huis gestaan.

“En dankie ook aan al die verbygangers wat ’n helpende hand verleen het.” In hierdie stadium wag die gesin nog vir die brandweer, polisie en versekeringsassessore om hul werk te voltooi en sodoende die oorsaak van die brand te bepaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article