Die Langeberg-munisipaliteit het ’n noodprojek van R5,5 miljoen van stapel gestuur om 11 000-volt- en 66 000-volt-lug-koperlyne in hoërisiko-gebiede, wat kwesbaar is vir kabeldiefstal en vandalisme, met aluminium te vervang.

Kabeldiefstal het ’n groot uitdaging geword wat vir inwoners en ondernemings ernstige ongerief en inkomsteverlies besorg. Dit het ook ’n invloed op die munisipaliteit se begroting weens die vervanging van materiale, verlies aan elektrisiteits­verkope tydens kragonderbrekings, en oortyd-uitgawes. Terwyl elektrisiëns onvoorsiene herstelwerk uitvoer, raak beplande instandhoudingswerk agter.

In die meeste munisipale gebiede word landelike gebiede buite dorpe gewoonlik deur Eskom bedien.

Die Langeberg-munisipaliteit is egter die enigste munisipaliteit in die Wes-Kaap wat elektrisiteitsvoorsiening aan sy landelike gebiede lewer, met ’n netwerk wat oor 880 kilometer vir 11 000 volt vse verspreidingslyne strek.

Aanvanklik was die 11 000-volt-dele ’n daaglikse teiken van kabeldiefstal, vermoedelik deur ’n plaaslike sindikaat.

Tydens 2024 is verskeie gebiede aangepak waar spanne kabels vervang het. Namate die vervanging van die 11 000-volt-kabels gevorder het, het diefstal van 66 000-volt-kabels dramaties toegeneem, met daaglikse voorvalle.

Een van die ergste geraakte gebiede was die 66 000-volt-lyn tussen die Muiskraalkop-substasie en die Goudmyn-substasie (11,3 km), wat elektrisiteit aan die Goedemoed-, Goudmyn-, Zandvliet- en Wakkerstroom-Oos-dele voorsien.

Wanneer sulke gevalle van kabeldiefstal plaasvind, moet die elektrisiteitsvoorsiening met groot uitdagings van ander gebiede, veral McGregor-substasie, herlei word. Die situasie is in die stormagtige wintermaande vererger toe die vraag na elektrisiteit verhoog het, wat lae spanning veroorsaak het.

In Julie het oorstromings verskeie 66 000-volt-paalstrukture weggespoel, wat onder moeilike omstandighede vervang moes word.

Die projek is verder tot September vertraag weens vertragings in die aankoms van materiale van oorsese verskaffers.

Die werk het 11,3 km beslaan waar ou kabels van 183 paalstrukture verwyder is. Dit is met drie nuwe aluminium-lug- 66 000-volt-geleiers en een aardgeleier vervang, en altesaam 45,2 km kabel en 549 isolators is aangebring. Die werk is op 12 November teen ’n koste van R2 541 000 vir materiaal enR350 000 vir arbeid voltooi.

Die terrein was besonder uitdagend, met lyne wat oor berge, veld, riviere en geboue strek. Sommige strukture was moeilik bereikbaar, en beplande kragonderbrekings was nodig waar 66 000-volt-lyne oor 11 000-volt-lyne gekruis het.

Die diensverskaffer, Anchor Powerlines, het saam met addisionele spanne en voertuie sewe dae per week gewerk om die projek in ’n rekordtyd af te handel.

Munisipale elektrisiteitspersoneel, onder leiding van Ryno Bouwer, het daaglikse skakelwerk en beplande kragonderbrekings bestuur om elektrisiteitstoevoer te handhaaf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article