Iven Klein van die Breedevallei- plaaslike munisipaliteit en William Waugh van AfriForum tydens die oorhandiging van komberse en matrasse aan inwoners van Worcester.


Die burgerregteorganisasies AfriForum en Kaapse Forum het voorverlede week hulp verleen aan verskeie gemeenskappe in die Wes-Kaap wat onder die verwoestende storms en oorstromings wat onlangs wydverspreid in die provinsie voorgekom het, deurgeloop het.

In Worcester het die plaaslike AfriForum-tak en Kaapse Forum op Donderdag 11 Julie altesaam 150 komberse en 150 matrasse aan inwoners van dié dorp wie se huise oorstroom het, geskenk. Inwoners is tydens die storm in die Worcester-gemeenskapsentrum gehuisves. Die organisasies het hul steun aan die gemeenskap voortgesit met die voorsiening van aandete aan inwoners wat geraak is.

Hulle het ook na die inwoners van Kay’s-woonwapark in die Strand uitgereik.

Nagenoeg 70 inwoners van dié woonwapark se huise het oorstroom. Komberse is ook uitgedeel om die snerpende koue te help afweer.

’n AfriForum-noodfonds, ten bate van gesinne wat deur oorstromings in die Wes-Kaap ontwrig is, is ook op die been gebring.

“Die Kaap van Storms het [voor]verlede week sy naam gestand gedoen en grootskaalse verwoesting gesaai, maar die krag van die gemeenskap het deur hierdie verwoesting duidelik geword. Inwoners se bereidwilligheid om uit te reik en dié by te staan wat die ergste deur die oorstromings geraak is, is bemoedigend en bied aan AfriForum ’n uitsonderlike geleentheid om noodverligting te bring na dié mense wat dit die nodigste het,” sê Tarien Cooks, die rampbestuurspesialis by AfriForum.

Sy moedig die publiek aan om die AfriForum-noodfonds te ondersteun om die hulp aan ontwortelde inwoners verder uit te brei.

. Skenkings kan in die volgende bankrekening inbetaal word:

Banknaam: Eerste Nasionale Bank

Rekeninghouer: AfriForum MSW

Bankkode: 261550

Rekeningnommer: 623 498 98 398

Verwysing: WK-oorstromings

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article