Drie mense is verlede Sondag net buite De Doorns beseer toe hierdie voertuig gerol het.Foto’s: One Way Towing


Talle botsings en ongelukke het die afgelope naweek weens die hewige reënstorms in die streek voorgekom.

Sowat 13 padongelukke het in die Langeberg-, Breederivier- en Witzenbergstreek gebeur.

Dilin Lakay van One Way Towing het aan Standard gesê die weer was die grootste bydraende faktor tot die talle voorvalle in die streek.

“Die weer het daartoe gelei dat paaie gladder is as gewoonlik en mense se visie is ook deur die reënval beïnvloed, maar ons het ook op talle tonele die misbruik van alkohol gesien, en dit lei gewoonlik tot sulke voorvalle,” het hy aan Standard verduidelik.

Hoewel talle in hierdie dertien voorvalle beseer is en almal die nodige mediese hulp gekry het, is ’n voetganger wel Sondagaand (5 Maart) omstreeks 19:30 dood toe ’n voertuig buite beheer hom by die Goudini/Slanghoek-afdraai naby Rawsonville getref het.

Die gedeelte wat van die N1 afdraai, is gesluit sodat die owerhede hul ondersoek op die toneel sou kon afhandel.

Ander botsings het in die Gydopas naby Ceres, op die N1 en op die R60 tussen Robertson en Worcester gebeur.

Jandre Bakker, ’n woordvoerder by die provinsiale departement van vervoer, vertel dat hulle gereeld ’n beroep op motoriste doen om waaksaam te wees, veral as swaar weer ’n invloed op paaie het.

Hy noem ook dat die departement en gepaardgaande owerhede ’n beleid het van geen genade nie wanneer dit by alkohol en bestuur kom.

Lakay sê talle botsings het die vorige week gebeur en hulle het bykans daagliks op botsings en ongelukke in die streek gereageer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article