Worcester Villagers het Saterdag (17 Augustus) op sy tuisveld, Bolandpark, sy droom om liga-louere lewendig gehou deur die besoekers, Bonnievale United, met 43-13 ore aan te sit nadat Villagers teen rustyd slegs 21-13 voor was. Met sy sewe drieë het Villagers ook ’n welverdiende bonuspunt verseker.
Sommer met die eerste lynstaan het Villa sy voorneme duidelik uitgespel toe sy teenstanders se voorspelers ná die lynstaan met ’n skitterende dryfmaalbeweging ’n goeie 30 m in trurat gestoot is voordat die haker, O’Raynn Jack, oorgeval het vir ’n drie, wat die skrumskakel, Gurshwin Africa, verdoel het (7-0-voorsprong).
Die telling het kort hierna tot 14-0 gestyg toe die buitesenter, Shandro Issel, oorgegaan het nadat die besoekers op soortgelyke wyse verniel is.
Bonnievale United hert toe sy eerste punte op die telbord gekry toe die heelagter, Breyten Witbooi, ná ’n oortreding met ’n netjiese strafskop geslaag het. Die agterstand het verder gekrimp toe Witbooi kort hierna met nog ’n strafskop slaag.
Villa het egter sy voorsprong gerek toe die heelagter, Jonathan Jordaan, pragtig by sy agterlyn aangesluit en gaan druk het. Africa het met die doelskop geslaag .
Die besoekers wou egter nooit bes gee nie en is beloon met sy eerste (en enigste drie) toe die buitesenter, Lunga Nkgangiso, onder die pale oor is en Witbooi met die doelskop geslaag het om die telling teen rustyd 21-13 in die tuisspan se guns te maak.
Villa het sy bonuspuntdrie gekry kort ná die begin van die tweede helfte toe die binnesenter, Carick Kustoor, ’n drie druk wat nie verdoel kon word nie. Villa het sy vyfde drie gedruk toe die slot Kyle Jacobs met brute krag vir nog ’n onvervyfde drie oorgebars het. Villa, wat in volle beheer was, het sy sesde drie gedruk toe Africa verspot maklik oorgaan en dit self verdoel het om sy span met 38-13 te laat voorloop. Die flank Jubelian Titus het hierna Villa se sewende drie in die hoekie gedruk. Die plaasvervanger-losskakel Austin Hendricks se doelskop-poging het egter die linkerpaal getref.
Villa behou met hierdie sege sy tweede plek op die punteleer met 80 punte, slegs 4 punte agter die voorloper, Robertson Town, met Villa se bure, Hammies, in die derde plek met 76 punte, met ’n wedstryd minder as die voorlopers gespeel.
In ’n eensydige hoofvoorwedstryd het Villa se naasbestes United B met 66-17 geklop en sy voorsprong behou, terwyl Villa se derde span United se derdes met 33-3 geklop en die voorlopers in sy afdeling geword het.
Saterdag (24 Augustus) speel Villa weer tuis op Bolandpark teen Robertson Rangers.





